Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 18:9-20 Bybel vir Almal (ABA)

9. Daar was party mense wat gedink het alles wat hulle doen, is genoeg om hulle regverdig te maak. Hulle het ook gedink net húlle is belangrik. Maar Jesus het toe hierdie gelykenis vir daardie mense vertel. Hy het gesê:

10. “Twee mans het na die tempel gegaan om te bid. Die een man was ’n Fariseër en die ander man was ’n tollenaar.

11. Die Fariseër het gaan staan en hy het só gebid: ‘My God, baie dankie dat ek nie soos die ander mense is nie. Hulle steel, hulle lewe nie soos U wil hê nie, en hulle pleeg egbreuk. En dankie dat ek nie soos hierdie tollenaar is nie.

12. Ek vas twee maal in ’n week, en ek gee tiendes van alles wat ek kry.’

13. “Maar die tollenaar het ver weg gaan staan. Hy wou nie opkyk na die hemel nie, want hy het gedink hy is nie goed genoeg nie. Hy het homself op die bors geslaan en gesê: ‘My God, ek is ’n sondaar. U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help.’ ”

14. Daarna het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, toe hierdie tollenaar weggaan van die tempel, was God tevrede met hom maar nie met die Fariseër nie. Want God sal elkeen verneder wat dink hy is belangrik, en God sal elkeen wat nederig is, belangrik maak.”

15. Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy aan hulle kon raak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense geraas.

16. Maar Jesus het die kindertjies geroep en gesê: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie, want God is Koning oor mense soos hulle.

17. Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand nie soos ’n kindjie glo dat God sy Koning is nie, dan sal hy ook nie kan inkom waar God Koning is nie.”

18. ’n Leier van die Jode het vir Jesus gesê: “U is ’n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.”

19. Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie.

20. Jy weet wat God in sy tien gebooie gesê het: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy moet jou ouers respekteer.’ ”

Lees volledige hoofstuk Lukas 18