Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 18:13-24 Bybel vir Almal (ABA)

13. “Maar die tollenaar het ver weg gaan staan. Hy wou nie opkyk na die hemel nie, want hy het gedink hy is nie goed genoeg nie. Hy het homself op die bors geslaan en gesê: ‘My God, ek is ’n sondaar. U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help.’ ”

14. Daarna het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, toe hierdie tollenaar weggaan van die tempel, was God tevrede met hom maar nie met die Fariseër nie. Want God sal elkeen verneder wat dink hy is belangrik, en God sal elkeen wat nederig is, belangrik maak.”

15. Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy aan hulle kon raak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense geraas.

16. Maar Jesus het die kindertjies geroep en gesê: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie, want God is Koning oor mense soos hulle.

17. Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand nie soos ’n kindjie glo dat God sy Koning is nie, dan sal hy ook nie kan inkom waar God Koning is nie.”

18. ’n Leier van die Jode het vir Jesus gesê: “U is ’n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.”

19. Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie.

20. Jy weet wat God in sy tien gebooie gesê het: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy moet jou ouers respekteer.’ ”

21. Die man het vir Jesus gesê: “Vandat ek klein was, het ek alles gedoen wat God se wette sê.”

22. Toe Jesus dit hoor, het Hy vir hom gesê: “Jy moet nog een ding doen: Gaan verkoop alles wat jy het en deel die geld uit vir die arm mense. Dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.”

23. Die man het baie hartseer geword toe hy hoor wat Jesus sê, want hy was baie ryk.

24. Toe Jesus sien hoe hartseer die ryk man word, het Hy gesê: “Ryk mense sal nie maklik inkom waar God Koning is nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 18