Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 17:12-29 Bybel vir Almal (ABA)

12. Toe Hy by ’n dorpie wou ingaan, kom daar tien melaatse mans na Hom toe. Hulle het gaan staan voordat hulle naby Hom was

13. en hulle het hard geroep: “Jesus, Meneer, U moet asseblief jammer wees vir ons en U moet ons help.”

14. Jesus het hulle gesien en Hy het vir hulle gesê: “Gaan wys julleself vir die priesters.”Toe hulle weggaan, het hulle gesond geword. God het hulle rein gemaak.

15. Hulle het gesien hulle is gesond, maar net een van hulle het omgedraai en God geprys, so hard dat baie mense dit kon hoor.

16. Hy het by die voete van Jesus gekniel met sy gesig teen die grond en hy het vir Jesus dankie gesê. Hy was ’n Samaritaan.

17. Jesus was verbaas en Hy sê toe: “God het tien melaatse mans gesond gemaak. Waar is die ander nege?

18. Het hulle nie ook dankbaar gevoel en teruggekom om God te prys nie? Hierdie man is nie ’n Jood nie, maar hy alleen het dankbaar gevoel.”

19. Jesus het vir die Samaritaanse man gesê: “Staan op en gaan huis toe. Jy het geglo, en daarom het God jou gered.”

20. Die Fariseërs het vir Jesus gevra: “Wanneer sal almal weet dat God Koning is?” Jesus het vir hulle gesê: “’n Mens kan nie voor die tyd uitvind wanneer dit sal gebeur nie.

21. Mense sal nie kan sê: ‘Kom kyk hier,’ of ‘Gaan kyk daar, dan sal julle sien God is Koning’ nie. Nee, julle kan nou sien God is Koning, want Ek is by julle en Ek doen die werk van God.”

22. Toe praat Jesus met die dissipels en Hy sê: “Daar sal ’n tyd kom wanneer julle sal wens dat julle net een maal kan sien die Seun van die mens is Koning, maar julle sal dit nie sien nie.

23. Ja, die mense sal vir julle sê: ‘Gaan kyk daar’ of ‘Kom kyk hier.’ Maar julle moenie gaan nie, julle moenie saam met hulle gaan nie.

24. Wanneer die Seun van die mens kom, dan sal dit wees soos wanneer ’n weerligstraal alles lig maak, van die een kant van die lug tot by die ander kant.

25. Maar Ek, die Seun van die mens, moet eers baie swaar kry, en die mense wat nou lewe, moet eers weier om My te aanvaar.

26. Wanneer die Seun van die mens kom, dan sal dit wees soos in die tyd toe Noag gelewe het.

27. In daardie tyd het die mense aangehou om te eet en te drink en te trou en hulle kinders te laat trou tot die dag toe Noag in die ark ingegaan het. Toe het die watervloed gekom en alles verwoes.

28. In die tyd toe Lot gelewe het, was dit ook so. Die mense het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant en gebou.

29. Maar die dag toe Lot uit Sodom weggegaan het, het daar vuur en swael uit die hemel gereën en dit het alles verwoes.

Lees volledige hoofstuk Lukas 17