Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 15:20-31 Bybel vir Almal (ABA)

20. Hy het toe opgestaan en hy het na sy pa toe gegaan. Toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien en sy pa was baie jammer vir hom. Hy het na sy seun toe gehardloop en hy het sy arms om sy seun se nek gesit en hom gesoen.

21. Toe sê die seun vir sy pa: ‘Pa, ek het sonde gedoen teen God en teen jou. Ek is nie meer goed genoeg om jou seun te wees nie.’

22. Maar sy pa het vir die slawe gesê: ‘Bring gou die beste klere en trek dit vir hom aan. Sit ’n ring aan sy vinger en trek vir hom sandale aan.

23. Bring die kalf wat ek vetgemaak het en slag dit, sodat ons kan eet en vrolik wees.

24. Want hierdie seun van my was dood en hy lewe weer, hy was weg en ons het hom weer gekry.’ Hulle het toe begin om vrolik fees te vier.

25. Die oudste seun was in die veld. Toe hy later naby die huis kom, hoor hy die mense maak musiek en hulle dans.

26. Hy roep toe een van die slawe en vra vir hom wat by die huis gebeur.

27. Die slaaf het gesê: ‘Jou broer is hier, en jou pa is bly hy het jou broer gesond teruggekry. Daarom het hy die kalf geslag wat hy vetgemaak het.’

28. Toe word die oudste seun baie kwaad en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa het uitgekom en hy het vir die seun gesoebat om in te gaan.

29. Hy het vir sy pa gesê: ‘Luister, Pa, ek werk al so baie jare vir jou en ek was nog altyd gehoorsaam, maar jy het nooit vir my ’n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie.

30. Maar hierdie seun van jou het al jou goed by prostitute uitgemors, en toe hy hier aankom, toe slag jy vir hóm die kalf wat jy vetgemaak het!’

31. Die pa sê toe vir die oudste seun: ‘My kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is joune.

Lees volledige hoofstuk Lukas 15