Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 1:22-29 Bybel vir Almal (ABA)

22. Maar nou het God julle verander. Die Seun het ’n mens geword en Hy het gesterf, en daarom het God julle sonde weggeneem sodat alles reg kan wees tussen God en julle. God het dit gedoen sodat julle aan Hom kan behoort en sodat julle sonder sonde sal wees en onskuldig sal wees wanneer Hy julle oordeel.

23. Maar dan moet julle aanhou glo, julle geloof moet baie sterk wees. Toe julle die goeie boodskap gehoor het, het God vir julle gehelp om seker te wees van die dinge wat julle glo, en nou moet julle aanhou om seker te wees. Al die mense in die wêreld het die goeie boodskap gehoor, die goeie boodskap wat ek moet bring.

24. Ek is bly dat ek nou swaarkry, want dit is vir júlle dat ek swaarkry. Christus het swaargekry, en nou kry ek swaar. Ek maak Christus se swaarkry klaar. Ek kry swaar vir die kerk, die kerk wat Christus se liggaam is.

25. Dit was God se plan dat ek vir die kerk moet werk. Hy het vir my die werk gegee om vir julle alles te sê wat Hy vir julle wil sê.

26. Mense het voorheen nooit geweet van die boodskap oor Christus nie. Maar nou het God dit vertel vir almal wat aan Hom behoort.

27. God wou hê almal wat aan Hom behoort, moet sy boodskap ken. God wou hê hulle moet weet van die groot wonderwerk dat die boodskap oor Christus by die heidene moes kom, ’n boodskap wat niemand voorheen geken het nie. Julle wat heidene is, moet nou weet dat Christus ook in julle is, en daarom kan julle seker wees dat julle ook by God, die Koning, sal wees.

28. Ons preek oor Christus en ons gebruik al ons wysheid om al die mense te waarsku en vir hulle te leer. Ons wil hê hulle moet almal aan Christus behoort en hulle moet alles doen wat God wil hê.

29. Daarvoor werk ek baie hard, want God gee vir my die krag om dit te doen.

Lees volledige hoofstuk Kolossense 1