Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 3:4-19 Bybel vir Almal (ABA)

4. Nikodemus sê toe vir Hom: “Maar hoe kan ’n mens gebore word as hy klaar groot is? ’n Mens kan nie ’n tweede maal in sy ma ingaan en weer gebore word nie.”

5. Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Iemand moet eers uit water en uit Gees gebore word, dan sal hy weet God is sy Koning.

6. Wanneer iemand gebore word uit ’n mens, dan is hy ’n mens. Maar wanneer iemand gebore word uit die Heilige Gees, dan is hy ’n mens wat ’n gees het wat waarlik lewe.

7. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou sê julle moet weer gebore word nie.

8. Die wind waai waar hy wil. Jy kan die wind hoor, maar jy weet nie van waar dit kom en waarnatoe dit gaan nie. So is dit ook wanneer iemand uit die Gees gebore word.”

9. Nikodemus het vir Jesus gevra: “Hoe gebeur dit?”

10. Jesus het gesê: “Jy is iemand wat vir die mense van Israel leer om God te dien. Hoekom verstaan jy dit nie?

11. Ek sê vir jou, en dit is seker: Ek en die mense wat aan My behoort, praat van dinge waarvan ons weet. Ons vertel van dinge wat ons self gesien het, maar julle glo niks wat ons vertel nie.

12. Ek het met jou gepraat oor iets wat op die aarde gebeur, en jy het dit nie geglo nie. Sal julle dan glo wanneer Ek vir julle vertel van die dinge wat in die hemel gebeur? Nee, julle sal dit ook nie glo nie.

13. Onthou, niemand het van die aarde na die hemel gegaan nie, net Ek het dit gedoen, Ek, die Seun van die mens, wat uit die hemel na die aarde gekom het.

14. Moses het die slang hoog aan ’n paal gehang in die woestyn. So moet die mense ook vir My, die Seun van die mens, hoog aan ’n kruis hang.

15. Dan sal elkeen wat in My glo, die ewige lewe hê.”

16. God is lief vir die mense, daarom het Hy sy Seun gegee. Daar is niemand soos die Seun nie. Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar sal die ewige lewe hê.

17. God het sy Seun na die mense toe gestuur, maar nie om die mense te straf nie. Nee, God het Hom gestuur om hulle te red.

18. Niemand anders is soos die Seun nie. As iemand in die Seun glo, dan straf God hom nie. Maar God straf nou elkeen wat nie in die Seun van God glo nie.

19. So skei God die mense van mekaar. Die lig het na die wêreld gekom, maar die mense was lief vir die donker, nie vir die lig nie. Hoekom? Hulle was lief vir die donker omdat hulle slegte dinge doen.

Lees volledige hoofstuk Johannes 3