Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 18:3-22 Bybel vir Almal (ABA)

3. Daarom het Judas soldate gaan roep en ook party van die priesterleiers en die Fariseërs se wagte. Hulle het lampe, fakkels en wapens saamgeneem en hulle het by die tuin gekom.

4. Jesus het voor daardie tyd geweet wat alles met Hom sal gebeur. Daarom het Hy na Judas en die soldate toe geloop en Hy het vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”

5. Hulle het vir Hom gesê: “Ons soek vir Jesus van Nasaret.”Jesus het gesê: “Dit is Ek.”Judas het ook daar by hulle gestaan. Dit was hy wat vir Jesus verraai het.

6. Toe Jesus vir hulle sê Hy is Jesus vir wie hulle soek, het hulle geskrik en op die grond geval.

7. Jesus het weer vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”Hulle het gesê: “Ons soek vir Jesus van Nasaret.”

8. Jesus het vir hulle gesê: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. Dit is vir Mý wat julle wil vang, daarom kan julle my dissipels laat gaan.”

9. Jesus het dit gesê sodat die woorde waar kon word wat Hy voorheen gesê het: “Vader, U het vir my mense gegee, en Ek het nie een van hulle laat verlore gaan nie.”

10. Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy het dit uitgeruk en hy het ’n slaaf van die hoëpriester daarmee gekap. Hy het die slaaf se regter-oor afgekap. Die slaaf se naam was Malgus.

11. Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit jou swaard terug op sy plek. My Vader wil hê Ek moet die beker van swaarkry drink, en Ek sal dit drink.”

12. Die soldate, die offisier en die wagte van die Jode het vir Jesus gevang en hulle het Hom vasgebind.

13. Hulle het Hom eers na Annas toe geneem. Annas was die skoonpa van Kajafas. Kajafas was daardie jaar hoëpriester.

14. Dit was Kajafas wat vir die Jode gesê het dit is beter dat een mens sterf sodat al die mense van die volk kan lewe.

15. Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg. Die hoëpriester het die ander dissipel geken. Daarom het die ander dissipel saam met Jesus ingegaan tot voor die huis van die hoëpriester,

16. maar Petrus het buite by die hek gebly staan. Later het die ander dissipel uitgekom, die hoëpriester het daardie dissipel geken. Die ander dissipel het met die vrou gepraat wat waggestaan het by die hek, en sy het vir Petrus laat inkom.

17. Die vrou wat waggestaan het by die hek, het vir Petrus gesê: “Is jy ook een van hierdie man se dissipels?”Petrus het vir haar gesê: “Nee, ek is nie.”

18. Dit was koud. Daarom het die slawe en die wagte vuur gemaak en hulle het hulleself warm gemaak. Petrus het ook by hulle gestaan en hy het homself warm gemaak.

19. Die hoëpriester het vir Jesus vrae gevra oor sy dissipels en oor alles wat Hy vir die mense geleer het.

20. Jesus het vir hom gesê: “Ek het altyd met die mense gepraat waar almal My kon sien. Ek het vir die mense geleer in die sinagoges en in die tempel waar baie Jode bymekaarkom. Ek het vir hulle geleer waar almal dit kon hoor.

21. Hoekom vra jy hierdie dinge vir My? Jy moet vir die mense gaan vra wat My gehoor het. Hulle weet wat Ek gesê het.”

22. Een van die wagte het daar naby gestaan. Toe hy hoor wat Jesus sê, klap hy vir Jesus en sê: “Jy moenie so lelik met die hoëpriester praat nie!”

Lees volledige hoofstuk Johannes 18