Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 14:20-31 Bybel vir Almal (ABA)

20. Dan sal julle weet Ek is by die Vader en julle is by My en Ek is by julle.

21. As julle weet wat Ek wil hê julle moet doen, en julle doen dit, dan wys julle dat julle lief is vir My. As julle lief is vir My, dan sal my Vader ook lief wees vir julle. Dan sal Ek ook lief wees vir julle en Ek sal vir julle wys wie Ek is.”

22. Toe sê Judas vir Hom: “Here, ons verstaan dit nie: Hoe sal U net vir óns wys wie U is, maar nie vir die mense van die wêreld nie?”Dit was nie Judas Iskariot nie, dit was ’n ander dissipel, sy naam was ook Judas.

23. Jesus het vir hom gesê: “As mense lief is vir My, dan sal hulle doen wat Ek vir hulle sê, en my Vader sal lief wees vir hulle. Dan sal Ek en die Vader na hulle toe kom en by hulle bly.

24. Maar mense wat nie lief is vir My nie, doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Julle moet onthou, die dinge wat Ek vir julle sê, kom nie van My nie. Dit kom van die Vader wat My na die wêreld gestuur het.

25. Ek het hierdie dinge vir julle gesê terwyl Ek nog by julle was.

26. Later, wanneer Ek weggegaan het, sal die Vader vir julle ’n Helper stuur om by julle te wees omdat Ek nie meer by julle is nie. Die Helper is die Heilige Gees. Hy sal vir julle alles leer. Ja, Hy sal julle laat onthou wat Ek vir julle gesê het.

27. Nou gaan Ek weg en Ek laat vrede by julle bly. Ja, Ek gee my vrede vir julle. Maar Ek gee nie vrede soos die mense van die wêreld vrede gee nie. Julle moenie bang en ontsteld wees nie.

28. “Julle het gehoor Ek vir julle sê Ek gaan weg, en Ek kom weer terug na julle toe. As julle lief is vir My, dan sal julle bly wees dat Ek teruggaan na die Vader, want Hy is belangriker as Ek.

29. Ek het nou vir julle alles vertel voordat dit gebeur, sodat julle in My sal glo wanneer dit gebeur.

30. Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die Satan, die leier van die mense van die wêreld, kom. Hy is nie sterker as Ek nie,

31. maar Ek wil graag hê die mense van die wêreld moet weet dat Ek lief is vir die Vader. Daarom doen Ek alles wat die Vader vir My gesê het. Julle moet nou opstaan, want ons moet gaan.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 14