Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:11-27 Bybel vir Almal (ABA)

11. Jesus het geweet Judas sal Hom verraai. Daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”

12. Toe Jesus die dissipels se voete klaar gewas het, het Hy sy bo-kleed aangetrek. Hy het weer by die tafel gaan sit en Hy het vir die dissipels gevra: “Verstaan julle wat dit beteken dat Ek julle voete gewas het?

13. Julle noem My ‘Meneer’ en ‘Here.’ Dit is reg, want dit is wat Ek is.

14. Ek is julle Here en julle Meneer, maar Ek het julle voete gewas. Daarom moet julle ook mekaar se voete was.

15. Ek is vir julle ’n voorbeeld. Julle moet ook doen wat Ek vir julle gedoen het.

16. Ek sê vir julle, en dit is seker: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. ’n Boodskapper is ook nie belangriker as die man wat hom gestuur het nie.

17. Julle het nou gehoor wat Ek sê. As julle dit doen, dan sal julle gelukkig wees.

18. “Ek praat nie van julle almal nie. Ek weet vir wie Ek gekies het. Die woorde wat in die Ou Testament geskryf is, sal waar word. Daar is geskryf:“’n Man wat saam met my eet,het my vyand geword.

19. “Ek sê dit nou vir julle, voordat dit gebeur. Wanneer dit later gebeur, dan sal julle glo dat Ek ook God is.

20. Ek sê vir julle, en dit is seker: Wanneer Ek iemand stuur om ’n boodskap te bring, en die mense luister na hom, dan luister hulle ook na My. En wanneer mense na My luister, dan luister hulle na die Vader wat My gestuur het.”

21. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy baie hartseer en ontsteld geword en Hy het ernstig gepraat en vir die dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai.”

22. Die dissipels het na mekaar gekyk. Hulle was baie verbaas, want hulle het nie geweet van wie Jesus praat nie.

23. Een van die dissipels het langs Jesus gesit. Dit was die dissipel vir wie Jesus lief was.

24. Petrus het vir daardie dissipel gewys hy moet vir Jesus vra wie Hom sal verraai.

25. Die dissipel wat langs Jesus gesit het, vra toe vir Jesus: “Here, van wie praat U? Wie is die persoon wat U sal verraai?”

26. Jesus het gesê: “Ek sal ’n stukkie brood in die sous druk en Ek sal dit gee vir die een wat My sal verraai.”Jesus druk toe ’n stukkie brood in die sous en Hy gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot.

27. Judas het die stukkie brood geneem, en toe het die Satan in Judas se hart gekom en vir Judas regeer. Daarom het Jesus vir Judas gesê: “Jy moet nou gou maak en gaan doen wat jy wil doen.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 13