Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 2:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. My vriende, julle glo in die Here Jesus Christus wat die Koning is. Daarom moet julle nie dink dat een mens belangriker is as ’n ander mens nie.

2. Miskien kom daar in julle vergadering ’n man wat ’n goue ring aan sy vinger het en wat mooi klere dra. En miskien kom daar ook ’n arm man wat vuil en stukkende klere dra.

3. As julle dink die man wat die mooi klere dra, is belangrik en julle sê vir hom: “Kom sit hier op die goeie sitplek,” maar julle sê vir die arm man: “Gaan staan daar agter” of “Sit hier by my voete,”

4. dan dink julle dat die een persoon belangriker is as die ander persoon. Dan is julle soos regters wat verkeerd besluit omdat hulle verkeerd dink.

5. My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moet luister na my. Die mense van die wêreld dink miskien dat party mense arm is, maar júlle weet dat God arm mense gekies het om ryk te wees. Hulle is ryk omdat hulle in Hom glo en omdat Hy belowe het dat Hy die Koning sal wees van die mense wat lief is vir Hom.

6. Maar dit is júlle wat arm mense verneder het. Julle het dit gedoen, maar julle weet goed dat dit die ryk mense is wat vir julle laat swaarkry en dat dit húlle is wat vir julle na die hof toe vat.

7. En julle weet ook goed dat dit die ryk mense is wat die mooi Naam van God laster, God aan wie julle behoort.

8. Die hemelse Koning sê in sy wette in die Ou Testament: “Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.”As julle dit doen, dan het julle ’n goeie ding gedoen.

9. Maar as julle dink een persoon is belangriker as ’n ander persoon, dan doen julle sonde, en die wette wys dan dat julle nie gehoorsaam is nie.

10. Wanneer ’n mens nie doen wat een van die wette van God sê nie, maar hy doen wat al die ander wette sê, dan is hy so skuldig soos iemand wat verkeerd gedoen het teen al die wette van God.

11. Want God het gesê: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.”Hy het ook gesê: “Jy mag nie iemand doodmaak nie.”As jy nie egbreuk pleeg nie, maar jy maak iemand dood, dan doen jy nie wat die wette sê nie.

12. Wanneer julle praat of iets doen, dan moet julle altyd onthou dat God julle sal oordeel. God sal julle oordeel met die wette wat vir mense vrymaak.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 2