Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 1:2-3-16 Bybel vir Almal (ABA)

2-3. My vriende, daar gebeur partymaal met julle verskillende soorte slegte dinge wat vir julle toets. Die dinge wil vir julle laat ophou om God te dien. Julle moet baie bly wees wanneer dit gebeur, want julle weet dat wanneer hierdie dinge julle geloof so toets, dan help dit julle om aan te hou glo.

4. Julle moet so aanhou glo dat julle geloof heeltemal sal wees soos dit moet wees. Julle moet so aanhou glo dat julle alles sal doen wat God wil hê, dan sal julle heeltemal wees soos God wil hê julle moet wees.

5. As daar by julle iemand is wat nie wysheid het nie, dan moet hy vir God vra om vir hom wysheid te gee, en God sal dit gee. Want God gee baie graag, Hy praat nie kwaai met mense wat tot Hom bid nie.

6. Wanneer mense bid, dan moet hulle glo dat God sal gee wat hulle vra, hulle moenie twyfel nie. Want ’n mens wat twyfel, is soos die see se branders, die wind waai die branders heen en weer.

7. Iemand wat twyfel, moenie dink dat die Here vir hom iets sal gee nie,

8. so ’n mens weet nie wat hy moet besluit nie, hy weet nooit wat hy moet doen nie, hy is nie seker nie.

9. ’n Gelowige wat onbelangrik en arm is, moet bly wees dat die Here dink hy is belangrik.

10. Maar ’n gelowige wat ryk is, moet bly wees dat die Here nie dink hy is belangrik nie, want sy baie goed kan wegraak soos ’n veldblom wat verdwyn.

11. Want wanneer die son begin skyn en dit word baie warm, dan word die veldblomme droog en hulle val af en die mooi blomme is nie meer daar nie. So is ’n ryk mens en sy besigheid, hy sal verdwyn soos ’n veldblom.

12. Daar gebeur partymaal dinge wat iemand se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen. Wanneer so iemand aanhou glo, dan is hy ’n gelukkige mens. Hoekom? Want wanneer God tevrede is met so ’n mens, dan sal God vir hom ’n prys gee, God sal vir hom die ewige lewe gee. God het dit belowe vir die mense wat lief is vir Hom.

13. Wanneer daar dinge is wat ’n mens se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen, dan moet die persoon nie sê: “Dit is God wat wil hê ek moet verkeerde dinge doen” nie, want niemand kan vir God verkeerde dinge laat doen nie, en God wil ook nie hê dat mense verkeerde dinge moet doen nie.

14. Elkeen wat verkeerde dinge doen, doen dit omdat hy self lus is om dit te doen. Hy wil die dinge baie graag doen, dit is vir hom soos ’n vangnet wat hom vang.

15. Wanneer iemand lus is om verkeerde dinge te doen, dan doen hy sonde, en wanneer die sonde groter en groter word, dan bring dit die dood.

16. My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moenie dom wees nie.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 1