Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 2:33-47 Bybel vir Almal (ABA)

33. God het vir Jesus opgeneem in die hemel en Hy het gesê dat Jesus op die belangrikste plek langs Hom moet sit. Toe het die Vader vir Jesus die Heilige Gees gegee, die Vader het dit belowe. En Jesus het die Heilige Gees vir ons gegee. Dit is wat julle nou sien en hoor.

34. Want Dawid het nie na die hemel gegaan nie. Dawid sê self:“Die Here het vir my Here gesê:‘Jy moet hier langs My sit,op die belangrikste plek,

35. want Ek sal jou vyande verneder,en Ek sal hulle voor jou laat lêsodat jy jou voete op hulle kan sit.’

36. “Die hele Israel moet nou weet, en dit is seker: Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het gesê dieselfde Jesus moet die Here en die Christus wees.”

37. Toe die mense hierdie woorde hoor, was hulle hartseer en ontsteld. Hulle het vir Petrus en die ander apostels gevra: “Vriende, wat moet ons doen?”

38. En Petrus het vir hulle gesê: “Julle moet verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle almal moet gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en God sal die Heilige Gees vir julle gee.

39. Want God het dit belowe vir julle en vir julle kinders en ook vir al die mense wat nie Jode is nie. Ja, Hy belowe dit vir al die mense wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”

40. Petrus het nog baie ander dinge gesê, hy het die mense gewaarsku en hy het ernstig met hulle gepraat. Hy het gesê: “Julle moet vir God vra om julle te red, julle moenie wees soos die wêreld se mense wat sonde doen nie.”

41. Die mense wat besluit het om te doen wat Petrus sê, is gedoop. En God het nog omtrent 3 000 mense op daardie dag gelowiges laat word.

42. Die gelowiges het aangehou om die dinge te doen wat die apostels vir hulle geleer het en hulle was altyd saam. Hulle het ook altyd saam geëet en gebid.

43. Toe die ander Jode die wonderwerke en die tekens sien wat God die apostels laat doen het, het hulle almal besef dat dit God is wat dit laat gebeur.

44. Al die gelowiges was bymekaar, en hulle goed het aan hulle almal behoort.

45. Hulle het hulle grond en huise en goed verkoop en hulle het die geld gegee vir mense wat min gehad het.

46. Hulle het elke dag bymekaargekom in die tempel en hulle het saam geëet in mekaar se huise. Hulle het vir mekaar kos gegee. Hulle het dit gedoen omdat hulle bly was en omdat hulle mekaar graag wou help.

47. Hulle het God geprys, en al die mense in Jerusalem het gehou van hulle. Die Here het elke dag mense gered en so het die gelowiges meer geword.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 2