Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 11:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die apostels en die ander gelowiges in die provinsie Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die boodskap van God aanvaar het.

2. En toe Petrus in Jerusalem gekom het, het party Joodse Christene met Petrus begin stry

3. en gesê: “Jy het na mense toe gegaan wat nie besny is nie, en jy het saam met hulle geëet.”

4. Toe het Petrus begin om vir hulle alles mooi te verduidelik. Hy het gesê:

5. “Ek was besig om in die stad Joppe te bid, toe ek iets gesien het, soos in ’n droom. Ek het gesien dat iets soos ’n groot stuk lap uit die hemel afkom na my toe, en dit het gelyk of iemand die lap aan die vier hoeke vasgehou het.

6. Toe ek goed kyk, het ek gesien in die lap is daar diere wat vier pote het en wat op die aarde bly, daar was ook wilde diere en diere wat kruip en voëls.

7. En ek het gehoor dat Iemand vir my sê: ‘Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.’

8. Maar ek het geantwoord: ‘Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is of wat onrein is nie.’

9. Maar die Persoon het die tweede maal uit die hemel vir my gesê: ‘God het hierdie diere rein gemaak. Jý moenie sê dit is onrein nie.’

10. Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap met alles daarin opgetrek in die hemel in.

11. En skielik het daar drie mans by die huis gestaan, die huis waarin ons was. Kornelius het hulle van Sesarea na my toe gestuur.

12. En die Heilige Gees het vir my gesê om saam met hulle te gaan en nie te stry nie. Hierdie ses gelowiges van die stad Joppe het ook saam met my gegaan, en ons het in die huis van Kornelius ingegaan.

13. Kornelius het vir ons vertel dat hy gesien het ’n engel staan in sy huis, en die engel het vir hom gesê: ‘Jy moet iemand na Joppe stuur en vir Simon vra om saam te kom hiernatoe. Die mense noem vir Simon ook Petrus.

14. Simon sal dinge vir jou vertel, en as jy daarna luister, dan sal God vir jou en vir almal in jou huis red.’

Lees volledige hoofstuk Handelinge 11