Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:3-11 Bybel vir Almal (ABA)

3. Een middag omtrent drie-uur het God iets vir Kornelius gewys: ’n Engel van God het na Kornelius toe gekom en vir hom gesê: “Kornelius!”

4. Kornelius was bang. Hy het na die engel gekyk en gesê: “Wat is dit, Meneer?”Die engel sê toe vir hom: “God het gehoor toe jy elke dag tot Hom gebid het en Hy het die goeie dinge gesien wat jy doen.

5. Jy moet ’n paar mans na die hawestad Joppe stuur om vir Simon te gaan haal. Die mense noem vir Simon ook Petrus.

6. Petrus bly by ’n man, sy naam is ook Simon. Hy is ’n leerlooier en hy het ’n huis by die see.”

7. Die engel wat met Kornelius gepraat het, het weggegaan. Kornelius het twee van sy slawe wat in sy huis gewerk het, geroep en ook ’n soldaat wat vir hom gewerk het.

8. Nadat Kornelius alles vir hulle vertel het, het hy hulle na Joppe gestuur.

9. Terwyl hulle die volgende dag op die pad na Joppe was en nader kom na die stad, het Petrus op die huis se plat dak geklim om te bid. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

10. Hy het honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense besig was om kos te maak, het die Here vir hom iets gewys, dit was soos in ’n droom.

11. Petrus het gesien dat die hemel oop is en dat iets soos ’n groot stuk lap afkom uit die hemel. Dit het gelyk of iemand die lap vashou aan die vier hoeke en of hy die lap tot op die grond laat sak.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10