Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:10-21 Bybel vir Almal (ABA)

10. Hy het honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense besig was om kos te maak, het die Here vir hom iets gewys, dit was soos in ’n droom.

11. Petrus het gesien dat die hemel oop is en dat iets soos ’n groot stuk lap afkom uit die hemel. Dit het gelyk of iemand die lap vashou aan die vier hoeke en of hy die lap tot op die grond laat sak.

12. In die groot stuk lap was van al die soorte diere: diere wat vier pote het, diere wat op die aarde kruip en voëls.

13. Petrus hoor toe dat Iemand vir hom sê: “Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.”

14. Maar Petrus het gesê: “Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is nie, of iets wat onrein is nie.”

15. Maar die Persoon het die tweede maal vir hom gesê: “God het hierdie diere rein gemaak. Jy moenie sê dit is onrein nie.”

16. Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap opgetrek in die hemel in.

17. Petrus het gewonder wat die dinge beteken wat hy gesien het. Die mans wat van Kornelius gekom het, het vir mense gevra waar Simon se huis is. Terwyl Petrus oor alles gewonder het, het hulle by die voordeur van die huis gestaan.

18. Hulle roep toe en vra of Simon daar woon. Simon se ander naam was Petrus.

19. Terwyl Petrus gedink het oor die dinge wat hy gesien het, het die Heilige Gees vir hom gesê: “Daar is drie mans wat jou soek.

20. Jy moet nou opstaan en afgaan na hulle toe. En jy moet saam met hulle gaan, jy moenie twyfel nie, want Ék het hulle gestuur.”

21. Petrus klim toe af van die dak en hy gaan na die mans toe en vra vir hulle: “Julle soek my, hier is ek. Hoekom is julle hier?”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10