hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 2 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus en Barnabas in Jerusalem

1. Ná 14 jaar het ek en Barnabas weer na Jerusalem gegaan. Ek het vir Titus saamgeneem.

2. Ek het gegaan omdat God gesê het ek moet daarnatoe gaan. In Jerusalem het ek vir die gelowiges verduidelik hoe ek die goeie boodskap vir die heidene preek. Toe ek alleen by die belangrike leiers was, het ek dit vir hulle ook verduidelik. Ek wou seker maak dat ek die regte boodskap preek.

3. Titus was saam met my. Hy is ’n Griek, maar die gelowiges in Jerusalem het nie vir hom gesê hy moet hom laat besny nie.

4. Daar was mense in die gemeente in Jerusalem wat nie regtig gelowiges was nie. Hulle het skelm kom luister na wat ek sê, want hulle wou my beskuldig omdat ek sê Christus Jesus het ons vrygemaak. Hulle wou hê ons moet weer slawe word van die Wette van Moses.

5. Ons het glad nie na hulle geluister nie. So het ons seker gemaak dat julle ook die waarheid van die goeie boodskap kon hoor.

6. Die belangrike leiers in die gemeente in Jerusalem het niks verander aan my boodskap nie. Dit maak nie vir my saak dat hulle belangrik is nie. God dink nie dat een mens belangriker is as ’n ander mens nie.

7. Die belangrike leiers in Jerusalem het besef dat God vir my gesê het ek moet die goeie boodskap vir die heidene bring, soos Hy vir Petrus gesê het hy moet die goeie boodskap vir die Jode bring.

8. Ja, God het vir Petrus krag gegee om ’n apostel vir die Jode te wees en dieselfde God het vir my ook krag gegee om ’n apostel vir die heidene te wees.

9. Jakobus, Sefas en Johannes was die belangrikste leiers in die gemeente in Jerusalem. Toe hulle besef dat God baie goed was vir my, het hulle my en Barnabas se hande geskud en gesê ons kan almal saamwerk. Ek en Barnabas moes vir die heidene preek en hulle moes vir die Jode preek.

10. Hulle het net een ding vir my gevra, hulle het gevra dat ek ook die arm mense van die gemeente in Jerusalem moet help. Dit het ek baie graag gedoen.

Paulus en Petrus stry in Antiogië

11. Sefas het na die stad Antiogië gekom. Hy het daar iets gedoen waarvan God nie hou nie en ek het toe reguit vir hom gesê dat hy verkeerd doen.

12. Voorheen het hy altyd saam geëet met die Christene wat nie Jode was nie. Maar later het daar party van Jakobus se mense in Antiogië aangekom. Toe het Sefas skielik opgehou om saam te eet met die Christene wat nie Jode was nie, want hy was bang vir die Joodse Christene.

13. Toe het die ander Joodse Christene dit ook gedoen, hulle was net so skynheilig soos Sefas. Ook Barnabas het skynheilig geword.

14. Ek het gesien hulle doen verkeerd, hulle verander die waarheid van die goeie boodskap. Daarom het ek vir Sefas gesê, en almal het dit gehoor: “Sefas, jy is ’n Jood, maar jy lewe soos die mense wat nie Jode is nie. Nou sê jy vir die mense wat nie Jode is nie, dat hulle soos Jode moet lewe. Jy mag dit nie doen nie.

15. Ek en jy was Jode vandat ons gebore is, ons was nie heiden-sondaars nie.

16. Ons weet dat God mense vryspreek van hulle sonde. Hy doen dit omdat hulle in Jesus Christus glo, nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. Daarom het ek en jy ook in Christus Jesus geglo en God het ons vrygespreek. God het dit gedoen omdat ons in Christus glo, nie omdat ons doen wat die wette sê nie. In die Ou Testament is geskryf:“God spreek mense vry,maar nie omdat hulle doenwat die wette sê nie.

17. “Ek en jy is Jode, ons wou hê dat God ons moet vryspreek van ons sonde omdat ons in Christus glo. Ja, ons het besef dat ons sondaars is, soos die heidene. Kan ons nou sê dit is Christus se skuld dat ons, die Jode, ook sondaars is? Nee, nooit nie.”

18. Ek weet nou God spreek mense vry van hulle sonde omdat hulle in Christus glo. Ek kan nie nou ’n ander boodskap preek nie, want dan doen ek nie wat God wil hê nie.

19. Christus het aan die kruis gesterf, en ek het saam met Hom gesterf. Daarom, die wette het my laat sterf, maar nou is ek los van die wette, en nou lewe ek om God te eer.

20. Dit is nie ék wat lewe nie, dit is Chrístus wat in my lewe. Ek lewe nou só: Ek glo in die Seun van God, die Seun wat lief is vir my en wat gesterf het sodat ek kan lewe.

21. Party mense sê God spreek mense vry omdat hulle doen wat die wette sê. Dit is nie waar nie. As dit waar is, dan help dit niks dat Christus gesterf het nie. Nee, ek kan nie die genade van God weggooi nie.