Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 4:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. My vriende, ek is baie lief vir julle en ek verlang na julle. Julle maak my bly en ek is baie trots op julle. Ek wil hê julle moet aanhou glo in die Here.

2. Euodia en Sintige, ek vra vir julle om saam te werk, want julle altwee behoort aan die Here.

3. En jy wat altyd saam met my werk, ek vra ook vir jou om hierdie twee vroue te help. Hulle het altwee hard saam met my gewerk om vir ander mense die goeie boodskap te bring, soos Klemens en my ander helpers ook gedoen het. Hulle name is almal geskryf in die boek van die lewe.

4. Julle behoort aan die Here. Daarom moet julle altyd bly wees! Ek sê dit weer, julle moet bly wees!

5. Julle moet vriendelik en geduldig wees met al die mense, want die Here sal gou weer kom!

6. Julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet ernstig bid tot God, julle moet vir Hom sê wat julle nodig het en julle moet vir Hom dankie sê daarvoor.

7. Julle behoort aan Christus Jesus. Daarom sal God vir julle vrede gee, vrede wat baie beter is as enige iets waaraan mense kan dink, vrede wat die dinge beskerm wat julle dink.

8. Vriende, ek wil vir julle nog iets sê. Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ’n mens trots kan wees.

9. Julle het geleer en gehoor en gesien hoe ek lewe. Julle moet dieselfde doen, dan sal God wat vrede gee, by julle wees.

Lees volledige hoofstuk Filippense 4