hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 9 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus vra vir die gemeente in Korinte om te kollekteer vir die gemeente in Jerusalem

1. Ek wil nie vir julle skryf oor die geld wat ons kollekteer vir die gelowiges in Jerusalem nie, maar ek doen dit.

2. Want ek weet hoe graag julle iets wil gee vir hulle. Ek spog daaroor by die gemeentes in die provinsie Masedonië. Ek weet dat julle, die gelowiges in die provinsie Agaje, van verlede jaar af gereed is om te gee. Die meeste gelowiges in Masedonië het gehoor dat julle graag wou gee, en toe wou hulle ook graag gee.

3. Ek stuur vir Titus en die ander twee persone na julle toe. Hulle moet kyk dat julle gereed is om julle geld te gee. Dan sal almal kan sien dat ons nie verkeerd was toe ons gespog het oor julle nie. Ek het dit al klaar gesê: Ons het gespog en gesê dat julle verlede jaar al klaar gereed was.

4. Want as ek en die ander gelowiges van Masedonië by julle kom, en hulle sien julle is nog nie gereed om te gee nie, dan sal ons skaam wees. Julle sal ook skaam wees as die geld nie gereed is nie.

5. Daarom het ek gedink dit is baie belangrik dat ek vir Titus en die ander twee persone vra om vóór ons na julle toe te gaan. Dan kan hulle seker maak dat die geld wat julle voorheen belowe het, gereed is voordat ons daar kom. En dan sal julle ook voel dat julle dit gee omdat julle graag wil gee, nie omdat ons sê julle móét dit gee nie.

6. Julle moet onthou: As iemand min saai, dan kry hy min, en as hy baie saai, dan kry hy baie.

7. Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het. Dit moenie vir hom swaar wees om te gee nie, en hy moenie gee omdat iemand sê hy móét gee nie. Onthou, God is lief vir mense wat bly is wanneer hulle gee.

8. God kan vir julle baie goeie dinge gee, sodat julle meer as genoeg sal hê. En dan sal julle altyd genoeg hê van alles wat julle nodig het. Maar dan sal julle ook meer as genoeg hê om te gee vir mense wat nie genoeg het nie.

9. In die Ou Testament is geskryf: Hy gee graag,hy gee vir die arm mense,hy doen wat God wil hê,en hy hou nooit op nie.

10. God is die Een wat saad gee vir die persoon wat saai, en Hy gee kos om te eet. Hy sal ook vir julle saad gee en Hy sal dit meer laat word. As julle doen wat God wil hê, dan sal Hy dit meer en meer laat word.

11. God sal vir julle genoeg gee van alles sodat julle altyd graag vir ander mense sal wil gee. En dan sal die gelowiges in Jerusalem vir God dankie sê wanneer ons die geld vir hulle gee wat julle gekollekteer het.

12. As ons die geld wat julle bymekaargemaak het, gee vir die gelowiges in Jerusalem, dan sal hulle genoeg hê om te lewe. En dan sal die ander gelowiges ook meer en meer vir God wil dankie sê.

13. As julle hierdie geld gee vir die gelowiges in Jerusalem, dan het julle die toets geslaag. Dan wys dit dat julle gehoorsaam is wanneer julle sê dat julle die goeie boodskap van Christus glo. Dit wys ook dat julle jammer is vir die gemeente in Jerusalem en vir al die gemeentes. En dan sal die gelowiges vir God prys.

14. En wanneer die gelowiges in Jerusalem vir julle bid, dan verlang hulle na julle. Want hulle sien dat God ook genadig was vir julle.

15. Ons sê vir God dankie vir sy groot present. Dit is so groot dat ’n mens nie kan sê hoe groot dit is nie.