hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 7 Bybel vir Almal (ABA)

1. Liewe vriende, God het hierdie dinge ook vir ons belowe. Daarom moet ons nie sonde doen wat ons liggaam en gees vuil kan maak nie. Ons moet probeer om heeltemal te lewe soos God wil hê omdat ons Hom respekteer.

Paulus is bly dat Titus gekom het en dat alles weer reg is tussen Paulus en die Korintiërs

2. Julle moet julle harte oopmaak vir ons. Ons het aan niemand van julle verkeerde dinge gedoen nie, ons het niemand iets verkeerd laat doen nie, ons het niemand bedrieg nie.

3. Ek sê hierdie dinge nie om julle te beskuldig nie. Ek het voorheen vir julle gesê dat julle baie kosbaar is vir ons. Ons sal julle nooit vergeet nie, dit maak nie saak wat gebeur nie.

4. Ek is baie eerlik met julle, en ek is baie trots op julle. Julle bemoedig my ook baie. Elke maal wanneer ons swaarkry, dan is ek baie bly daaroor.

5. Want toe ons in die provinsie Masedonië gekom het, het ons nooit tyd gehad om te rus nie. Mense het ons laat swaarkry op baie maniere. Hulle het met ons baklei, en ons was bang.

6. Maar God troos mense wat swaarkry en wat nie weet hoe om hulleself te help nie. Hy het ons getroos toe Titus daar aangekom het.

7. God het ons getroos, maar nie net omdat Titus daar aangekom het nie, ook omdat julle vir Titus getroos het. Titus het vir ons vertel dat julle verlang na ons, hy het vertel dat julle jammer is dat daar probleme gekom het tussen julle en my, en dat julle graag die probleme wil regmaak. Ek was baie bly hieroor.

8. Miskien het ek julle hartseer gemaak in my brief, maar ek is nie jammer daaroor nie. Nee, ek wás jammer, want ek sien dat daardie brief julle vir ’n kort tydjie hartseer gemaak het.

9. Maar nou is ek bly, nie omdat julle hartseer was nie, maar omdat julle so hartseer was dat julle verander het en begin lewe het soos God wil hê. Want julle was hartseer soos God wil hê. Dit wys dat ons glad nie verkeerde dinge aan julle gedoen het nie.

10. Want as ’n mens hartseer is soos God wil hê, dan verander ’n mens, en dan red God jou, en daaroor is ’n mens nooit jammer nie. Maar as ’n mens hartseer is soos die wêreld hartseer is, dan verander niks en dan sterf jy vir altyd.

11. Want julle sien self wat gebeur het toe julle hartseer was soos God wil hê: Julle het begin besef dat daar verkeerde dinge gebeur het. Julle het gesê dat julle nie regtig teen my is nie. Julle het kwaad geword vir die persoon wat vir julle laat verander het om teen my te wees. Julle was bang dat die probleem te groot sal wees om reg te maak. Julle het begin om na my te verlang. Julle was haastig om alles reg te maak tussen ons. Julle het die man gestraf wat teen my was. Ja, julle het gewys dat julle heeltemal onskuldig is hieroor.

12. Dit alles wys vir julle hoekom ek hierdie brief geskryf het. Dit was nie oor die man wat verkeerd gedoen het nie en ook nie oor my, die man aan wie hy verkeerd gedoen het nie. Nee, dit was sodat julle kon sien hoe belangrik dit is dat alles weer reg moet wees tussen julle en ons, en dat God dit ook weet.

13. Daarom is ek bly.Ons is bly, maar nie net oor onsself nie. Ons is nog meer bly omdat Titus so bly is. Want julle almal het gehelp dat hy meer tevrede geword het.

14. Ek het ’n bietjie gespog by Titus oor julle. En ek is nie jammer daaroor nie. Alles wat ons vir julle gesê het oor Titus, was die waarheid, en so het ons ook die waarheid gepraat toe ons by Titus gespog het oor julle.

15. Titus onthou dat julle almal geluister het na hom en dat julle hom waarlik baie gerespekteer het toe hy by julle gekom het. Daarom is hy nou nog meer lief vir julle.

16. Ek is bly, want ek voel nou goed oor julle.