Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 3:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moet ons weer begin en sê wie ons is en hoekom julle ons kan glo? Nee, ons vra nie soos ander mense dat julle of ander mense briewe moet skryf om te sê dat ons vir julle mag preek en dat ons dit goed doen nie.

2. Júlle is ons brief. Christus het hierdie brief op ons harte geskryf, en al die mense ken hierdie brief en hulle lees dit.

3. Julle wys duidelik dat julle ’n brief van Christus is. En Christus het vir ons gebruik om hierdie brief te skryf. Ons het nie die brief met ink geskryf nie. Nee, die Gees van God, God wat lewe, het dit geskryf. Hy het dit nie op plat klippe geskryf nie, maar op mense se harte.

4. Dit is seker. Ons kan dit eerlik sê omdat ons aan Christus behoort, God kan hoor wat ons sê.

5. Ons sê dit nie omdat ons dink dat ons self baie goed is nie, ons sê dit omdat God ons goed genoeg gemaak het om sy werk te doen.

6. God het ons goed genoeg gemaak om die werk te kan doen, ons moet vir mense vertel van ’n nuwe verbond. ’n Mens skryf hierdie verbond nie met letters op papier nie, nee, die Heilige Gees skryf dit. Letters op papier bring die dood, maar die Gees laat mense lewe.

7. Die werk wat Moses moes doen, het mense laat sterf. God het die letters van daardie werk op plat klippe geskryf. Moses se werk was om die wette van God die Koning na die volk toe te neem. Daarom kon die Israeliete nie na Moses se gesig kyk nie, sy gesig het te veel geblink. Moses se werk het ’n wonderlike ding laat gebeur, maar dit gebeur nou nie meer nie.

8. Die werk van die Gees kan baie meer wonderlike dinge laat gebeur.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 3