hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 3 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus se werk is om die nuwe verbond te preek

1. Moet ons weer begin en sê wie ons is en hoekom julle ons kan glo? Nee, ons vra nie soos ander mense dat julle of ander mense briewe moet skryf om te sê dat ons vir julle mag preek en dat ons dit goed doen nie.

2. Júlle is ons brief. Christus het hierdie brief op ons harte geskryf, en al die mense ken hierdie brief en hulle lees dit.

3. Julle wys duidelik dat julle ’n brief van Christus is. En Christus het vir ons gebruik om hierdie brief te skryf. Ons het nie die brief met ink geskryf nie. Nee, die Gees van God, God wat lewe, het dit geskryf. Hy het dit nie op plat klippe geskryf nie, maar op mense se harte.

4. Dit is seker. Ons kan dit eerlik sê omdat ons aan Christus behoort, God kan hoor wat ons sê.

5. Ons sê dit nie omdat ons dink dat ons self baie goed is nie, ons sê dit omdat God ons goed genoeg gemaak het om sy werk te doen.

6. God het ons goed genoeg gemaak om die werk te kan doen, ons moet vir mense vertel van ’n nuwe verbond. ’n Mens skryf hierdie verbond nie met letters op papier nie, nee, die Heilige Gees skryf dit. Letters op papier bring die dood, maar die Gees laat mense lewe.

7. Die werk wat Moses moes doen, het mense laat sterf. God het die letters van daardie werk op plat klippe geskryf. Moses se werk was om die wette van God die Koning na die volk toe te neem. Daarom kon die Israeliete nie na Moses se gesig kyk nie, sy gesig het te veel geblink. Moses se werk het ’n wonderlike ding laat gebeur, maar dit gebeur nou nie meer nie.

8. Die werk van die Gees kan baie meer wonderlike dinge laat gebeur.

9. Die werk wat vir mense straf gebring het, het wonderlike dinge laat gebeur, maar die werk wat vir mense vryspreek, sal nog baie meer wonderlike dinge laat gebeur. Dit sal die beste van alles wees.

10. Ja, die werk wat Moses gedoen het, het wonderlike dinge laat gebeur, maar nou is dit nie meer so nie. Dit is omdat die werk van die Gees baie meer wonderlike dinge laat gebeur.

11. Die werk van Moses wat nou verby is, het wonderlike dinge laat gebeur, maar die werk van die Gees wat nou gekom het en wat altyd sal bly, sal baie meer wonderlike dinge laat gebeur.

12. Ons is baie seker dat daar nou ’n nuwe verbond is. Daarom is ons nie bang om te preek nie.

13. Moses het ’n sluier oor sy gesig gesit, maar ons doen nie dieselfde nie. Moses het dit gedoen sodat die Israeliete nie kon sien dat die tyd van die verbond amper verby is nie.

14. God het die Israeliete hardkoppig gemaak. Wanneer hulle vandag die woorde van die ou verbond lees, dan kan hulle nie die waarheid sien nie, dieselfde sluier is nog daar. Die sluier bly daar omdat God dit net wegneem wanneer iemand in Christus glo.

15. Ja, tot vandag toe hang daar ’n sluier oor die Israeliete se hart wanneer hulle die Wette van Moses lees.

16. Elke maal wanneer iemand na die Here toe gaan, dan haal die Here die sluier af.

17. “Die Here” beteken hier “die Gees.” Waar die Gees van die Here werk, daar is ’n mens vry.

18. Daar is nie meer ’n sluier oor ons gesig nie, ons kan sien dat die Here Jesus die Koning is, en dit is wonderlik. Die Here, die Gees, laat wonderlike dinge ook met ons gebeur, sodat ons meer en meer soos konings word, en soos die Here Jesus kan wees.