hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 11 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus en die vals apostels

1. Dit lyk nou miskien of ek ’n bietjie dom is, ek wil hê julle moet my vergewe. Ja, julle moet my vergewe.

2. Ek is baie lief vir julle, soos God lief is vir julle. Ek is soos ’n pa wat belowe het dat sy dogter met ’n man sal trou wat die pa vir haar gekies het. Daardie man is Christus. Ek wil hê dat julle soos ’n maagd moet wees, ek wil julle vir Christus gee, julle moet net aan Hom behoort.

3. Maar ek is bang dat iemand julle sal verlei sodat julle nie aanhou om aan Christus te dink nie. Want dan behoort julle nie net aan Hom nie. Dit is soos toe die slang vir Eva verlei het omdat hy so skelm was.

4. Want dit lyk vir my julle glo en aanvaar maklik iemand wat kom en wat vir julle van ’n ander Jesus vertel, nie dieselfde Jesus wat ons vir julle gepreek het nie. Of julle aanvaar miskien ’n ander gees en boodskap, nie die Gees van God en die goeie boodskap wat ons vir julle gebring het nie.

5. Ek dink dat ek ook so goed is soos daardie vals apostels, hulle dink dat hulle beter is as ek.

6. Ek praat miskien nie so goed soos hulle nie, maar ek weet alles wat ek moet weet. Julle het dit gesien toe ons by julle was en toe ons vir julle alles verduidelik het op verskillende maniere.

7. Dink julle ek was verkeerd omdat ek nie geld gevra het nie toe ek die goeie boodskap van God vir julle gepreek het? Party mense dink miskien dat ek myself verneder het, maar dit was omdat julle vir my so belangrik was.

8. Ek het geld van die kerke van die provinsie Masedonië geneem om vir julle te werk.

9. Toe ek by julle was en nie geld gehad het nie, het ek vir niemand van julle gepla en geld gevra nie. Die gelowiges van Masedonië het my gehelp toe hulle in Korinte gekom het. Ek het nooit vir julle geld gevra vir myself nie, en ek sal dit ook nooit doen nie.

10. Ek is trots daarop dat ek nie vir julle geld gevra het nie, en ek sal in die hele provinsie Agaje daaroor praat. Ek praat die waarheid, Christus weet dit.

11. En hoekom wil ek nie vir julle geld vra nie? Is dit omdat ek nie lief is vir julle nie? Nee, God weet hoe lief ek vir julle is.

12. Ek vra nie vir julle geld nie, en ek sál ook nie vir julle geld vra nie. Want so wil ek die verkeerde mense keer, ek wil nie hê dat hulle in julle gemeente moet werk nie. Hierdie mense is jaloers, hulle wil hê dat julle trots moet wees op hulle soos julle trots is op ons.

13. Hierdie mense is vals apostels. Die dinge wat hulle doen, lei mense op ’n verkeerde pad. Hulle maak of hulle apostels van Christus is.

14. Maar ek is nie verbaas nie, want ook Satan maak of hy ’n engel van die lig is.

15. Daarom is ons nie verbaas dat die mense wat vir Satan dien, maak of hulle goeie dinge doen nie. God sal eendag vir hierdie vals apostels die straf gee wat hulle moet kry.

Al die dinge wat Paulus laat swaarkry het omdat hy ’n apostel is

16. Ek het dit al voorheen gesê, maar ek sê dit weer: Julle moenie dink ek is dom nie. Of miskien moet julle dink ek is dom, want dan kan ek ook ’n klein bietjie spog.

17. Ek sal nou iets sê, maar dit kom nie van die Here nie. Ek praat nou soos ’n dom mens wanneer ek ’n bietjie wil spog.

18. Daar is baie mense wat spog soos wêreldse mense, daarom wil ek ook nou spog.

19. Want ek dink julle hou van dom mense, julle wat dink dat julle baie verstandig is.

20. Julle hou daarvan om iemand se slawe te wees, julle hou daarvan wanneer iemand julle geld vat, wanneer iemand met julle doen wat hy wil, wanneer iemand dink hy is wonderlik, wanneer iemand julle beledig.

21. Ek is jammer om dit te sê, maar ons was te swak om dit aan julle te doen.Ek weet ek praat nou soos ’n dom mens, maar as ander mense kan spog, dan kan ek ook spog.

22. Hulle spog dat hulle Hebreërs is. Ek is ook ’n Hebreër. Hulle spog dat hulle Israeliete is. Ek is ook ’n Israeliet. Hulle spog dat hulle die nageslag van Abraham is. Ek is ook van die nageslag van Abraham.

23. Hulle spog dat hulle dienaars van Christus is. En nou praat ek regtig soos ’n dom mens: Ek is ’n beter dienaar van Christus. Ek het baie harder gewerk as hulle, ek was meer in die tronk, mense het my baie meer geslaan as vir hulle, ek was baie maal amper dood.

24. Die Jode het my vyf maal met ’n stok geslaan, elke maal het hulle my 39 houe geslaan.

25. Die Romeine het my drie maal met ’n stok geslaan, mense het my een maal met klippe gegooi om my dood te maak, ek was op drie skepe wat stukkend gebreek het, en ek het een maal ’n hele nag en dag op die see rondgedryf.

26. Ek het baie maal ver gereis. Ek het deur gevaarlike riviere gegaan, en daar was baie ander gevaarlike dinge: Daar was diewe, my eie Jode-mense, heidene, daar was stede waar ek swaargekry het, plekke ver van die stede, die see, en mense wat gesê het hulle is Christene maar hulle was vals.

27. Ek het hard gewerk en swaargekry, ek kon baie maal nie slaap nie, ek was honger en dors, ek het baie maal nie kos gehad nie, ek het koud gekry en ek het nie genoeg klere gehad nie.

28. Daar is nog baie ander dinge wat ek nie genoem het nie. Ek is ook bekommerd oor die werk wat ek elke dag moet doen, ek is bekommerd oor al die gemeentes.

29. As iemand in ’n gemeente swak is, dan is ek saam met hom swak. En as iemand ’n ander persoon sonde laat doen, dan word ek baie kwaad.

30. As ek moet spog, dan sal ek daaroor spog dat ek swak is.

31. God weet dat ek nie lieg nie. Hy is die God en Vader van die Here Jesus. Ons moet God altyd prys.

32. Ek was eendag in Damaskus. Koning Aretas het iemand gekies en aangestel om te regeer oor die stad. Daardie persoon het wagte aangestel en hy het probeer keer sodat ek nie uit die stad kon vlug nie. Hy wou my vang.

33. Maar vriende het my in ’n mandjie deur ’n venster in die stadsmuur laat afsak. En so het ek gevlug, hy kon my nie vang nie.