Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 1:10-19 Bybel vir Almal (ABA)

10. God het die wette gegee vir mense wat onsedelik lewe, vir mans wat met mans onsedelike dinge doen, vir mense wat ander mense vang en hulle verkoop om slawe te wees, vir mense wat lieg en in die hof leuens vertel. Die wette is vir mense wat dinge doen wat verkeerd is, hulle doen niks wat ’n mens móét doen nie, hulle doen niks van die goeie dinge wat ons geleer het nie.

11. Ons het dinge geleer wat pas by die goeie boodskap van God wat Koning is. Ons moet altyd vir God prys. God het die goeie boodskap vir my gegee om vir julle te bring.

12. Ek sê dankie vir Christus Jesus, ons Here, want Hy het vir my die krag gegee om my werk te doen. Ek sê ook vir Hom dankie dat Hy gedink het ek sal doen wat Hy wil hê, dankie dat Hy vir my die werk gegee het om die goeie boodskap te bring.

13. Voordat ek ’n gelowige geword het, het ek slegte dinge gesê van Christus, ek het die mense van sy kerk verdruk en beledig. Maar Christus was genadig vir my, omdat ek daardie dinge gedoen het toe ek nog nie in Hom geglo het nie, ek het nie geweet dat ek verkeerd doen nie.

14. Ons Here was baie goed vir my. Hy het my laat glo in Hom, en Hy het my lief gemaak vir mense. Dit gebeur wanneer ’n mens aan Christus Jesus behoort.

15. Wat ek nou wil sê, is waar, julle kan dit glo: Christus Jesus het na die wêreld gekom om sondaars te red. Ek is die grootste sondaar.

16. Maar Christus Jesus was baie goed vir my. Ek was die grootste sondaar, maar Hy het vir my gewys dat Hy baie geduldig is. Daarom het ek ’n voorbeeld geword vir ander mense, mense wat ook in Hom kan glo en die ewige lewe kan kry.

17. Ek bid dat die mense altyd vir God sal eer en prys, God wat altyd Koning is en wat altyd lewe. Ons sien nie vir God nie, net Hy is God. Amen.

18. Timoteus, jy is vir my soos my eie kind. Profete het voorheen gesê wat met jou sal gebeur. Daarom sê ek ook nou vir jou wat jy moet doen sodat jy soos ’n goeie soldaat kan aanhou veg.

19. Jy moet aanhou glo en jy moet onthou wat is reg en wat is verkeerd. Party mense wou dit nie onthou nie en hulle het opgehou glo, hulle geloof was soos wanneer ’n skip stukkend stamp op die rotse en sink.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 1