hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 4 Bybel vir Almal (ABA)

’n Christen moet rein lewe en hy moet lief wees vir ander Christene

1. Vriende, daar is nog ’n paar dinge waaroor ons met julle wil praat. Die Here Jesus sê ons moet vir julle iets vra wat baie belangrik is. Ons het vir julle geleer hoe julle moet lewe sodat God tevrede sal wees met julle. Ons weet julle doen dit al klaar, maar ons wil vra dat julle dit nog beter moet doen.

2. Julle weet wat ons alles vir julle gesê het om te doen. Dit is dinge wat die Here Jesus vir ons gesê het.

3. God wil hê julle moet lewe soos mense wat aan Hom behoort. Julle moenie julle liggame gebruik om onsedelik te lewe nie.

4. God wil hê elke man moet weet dat hy saam met sy vrou moet lewe soos God wil hê, en elke man moet sy vrou respekteer.

5. Julle moenie doen soos die heidene wat nie vir God ken nie. Daardie mans gebruik hulle vroue net vir seks.

6. God wil ook hê gelowiges moenie sonde doen teen mekaar nie. Die een man moenie ’n ander man se vrou wil hê en haar vir homself vat nie. Die Here sal hierdie soort sonde straf. Ons het dit voorheen vir julle gesê en ons het julle ernstig gewaarsku.

7. God het ons gekies om aan Hom te behoort, daarom moet ons lewe soos Hy wil hê, ons moenie onsedelik lewe nie.

8. Daarom, iemand wat nie luister na wat ons vir julle leer nie, is ongehoorsaam aan God wat sy Heilige Gees vir julle gee, hy is nie ongehoorsaam aan mense nie.

9. Dit is nie nodig dat óns vir julle skryf dat julle lief moet wees vir mekaar nie, want God self het vir julle geleer dat julle lief moet wees vir mekaar.

10. Ons weet julle is lief vir al die gelowiges in die hele provinsie Masedonië. Maar, vriende, ons vra weer baie mooi, julle moet dit nog beter doen.

11. Julle moet ook probeer om stil en rustig te lewe. Julle moenie nuuskierig wees oor ander mense nie. En julle moet self hard werk, soos ons gesê het julle moet doen.

12. Dan sal die mense buite die gemeente, die mense wat nie in Christus glo nie, julle respekteer. En julle sal ook alles kry wat julle nodig het.

Wat sal gebeur wanneer die Here weer kom

13. Vriende, ons wil graag hê dat julle moet weet wat sal gebeur met die gelowiges wat gesterf het. As julle dit weet, dan sal julle nie huil en treur soos die heidene wat niks het wat hulle kan hoop nie.

14. Ons glo dat Jesus gesterf het en weer begin lewe het. Ons moet ook glo dat God die gelowiges wat gesterf het, na Jesus toe sal bring.

15. Wat ons nou vir julle sê, het die Here Jesus vir ons gesê. Wanneer die Here Jesus weer kom, dan sal dit nie met ons wat nog lewe, beter gaan as met die mense wat klaar gesterf het nie.

16. Wanneer die Here Jesus kom, dan sal Hy hard roep en sê wat moet gebeur. ’n Groot engel sal hard roep, en die trompet van God sal blaas. Die Here Jesus self sal uit die hemel kom, en die mense wat gesterf het en wat in Christus glo, sal eerste weer lewe.

17. Daarna sal God ons wegvat, ons wat nog lewe en wat oorgebly het op die aarde. Hy sal ons en die mense wat gesterf het en wat weer lewe, saam wegneem tot in die wolke. Dan sal ons die Here Jesus in die lug ontmoet, en so sal ons altyd by die Here Jesus wees.

18. Julle moet hierdie dinge vir mekaar sê, sodat julle nie huil en treur nie.