hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 3 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ons het so baie na julle verlang dat ons nie langer kon wag nie. Toe het ons besluit dat net ek en Silvanus in Atene moet bly

2. en dat Timoteus na julle toe moet gaan. Timoteus glo ook soos ons in God, en hy werk saam met ons vir God om die goeie boodskap van Christus te bring. Timoteus moes vir julle gaan sê dat julle moet aanhou glo, julle moenie moedeloos word nie.

3. Timoteus moes gaan seker maak dat julle nie twyfel omdat julle swaarkry nie. Julle weet self dat gelowiges in hierdie wêreld sal swaarkry.

4. Toe ons by julle was, het ons vir julle gesê dat ons sal swaarkry. Ons het dit gesê voordat dit gebeur het, en julle weet dit het alles presies so gebeur.

5. Ek kon nie langer wag nie, ek wou hoor hoe dit met julle gaan. Daarom het ek gesê ons moet vir Timoteus stuur om te gaan uitvind of julle nog glo. Hy moes seker maak dat die Satan julle nie verlei het sodat julle nie meer glo nie. As julle opgehou het om te glo, dan het ons werk by julle niks beteken nie.

6. Maar Timoteus het klaar teruggekom van julle en hy het vir ons goeie nuus gebring. Hy sê julle hou aan om in God te glo en julle is lief vir mekaar. Hy sê ook julle dink aan mooi dinge wanneer julle aan ons dink, en julle verlang om ons te sien, soos ons ook verlang om julle te sien.

7. Vriende, ons het baie probleme en ons kry swaar, maar ons voel tevrede oor julle, want ons weet julle hou aan om te glo.

8. Julle geloof in die Here is sterk, daarom gaan dit goed met ons.

9. Wanneer ons aan julle dink, dan is daar baie dinge wat ons bly maak. Ons kan nie vir God genoeg dankie sê oor julle wanneer ons tot Hom bid nie.

10. Ons bid ernstig elke dag en nag dat ons julle weer sal sien. Ons bid ook dat ons oor die ander dinge kan praat wat julle glo maar wat julle nog nie goed verstaan nie.

11. Ons bid dat ons God en Vader en ons Here Jesus Christus vir ons na julle toe sal lei.

12. Ons bid dat die Here julle liefde sal laat groei en dat julle vol sal word van liefde vir mekaar en liefde vir almal, soos ons ook lief is vir julle.

13. So sal die Here julle in julle harte laat glo dat julle heeltemal aan God behoort. Dan sal niemand julle kan beskuldig wanneer julle voor ons God en Vader staan nie, daardie dag wanneer die Here Jesus kom en wanneer al sy engele by Hom sal wees. Amen.