Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 14:3-17 Bybel vir Almal (ABA)

3. Maar wanneer iemand die boodskap van God bring, dan praat hy met mense. En dit maak hulle geloof sterk, dit help hulle om aan te hou glo en dit troos hulle.

4. Wanneer iemand in tale praat, dan maak hy sy eie geloof sterk. Maar wanneer iemand die boodskap van God bring, dan maak hy die mense van die kerk se geloof sterk.

5. Ek wil graag hê dat julle almal in tale moet praat. Maar ek wil nog meer hê, ek wil hê dat julle God se boodskap moet bring. Iemand wat God se boodskap bring, is belangriker as iemand wat in tale praat. Iemand moet tolk en sê wat die persoon sê wat in tale praat. Dan sal dit goed wees vir die gemeente, want dan maak dit die gemeente se geloof sterk.

6. Vriende, dink nou goed hieroor: As ek na julle toe kom en ek praat in tale, dink julle dit kan vir julle help? Nee, ek kan julle net help wanneer ek vir julle iets sê wat God vir my gewys het of wanneer ek vir julle verduidelik wat God wil hê of wanneer ek God se boodskap bring of wanneer ek vir julle iets leer.

7. Dit is dieselfde met musiek-instrumente, dinge wat nie lewe nie. Dink aan ’n fluit of ’n harp. As iemand nie ’n fluit reg blaas nie of hy speel nie reg op ’n harp nie, dan sal ’n mens nie weet watter musiek dit is nie.

8. En wanneer iemand nie hard en duidelik op die trompet blaas sodat almal dit kan hoor nie, dan sal die soldate nie gereedmaak om oorlog te maak nie.

9. Dit is dieselfde in die gemeente. Wanneer iemand praat, maar julle kan nie verstaan wat hy sê nie, sal julle dan weet wat die persoon wil sê? Nee. Dan is dit soos wanneer iemand praat, maar die wind waai sy woorde weg.

10. Daar is baie tale in die wêreld. En elke taal het mense wat die woorde verstaan.

11. Maar as ek nie verstaan wat iemand sê nie, dan is ek vir hom soos iemand wat die taal praat van ’n ander land en hy is vir my soos iemand van ’n ander land.

12. Dit moenie so wees by julle nie. Julle wil graag die dinge hê wat die Heilige Gees vir julle gee. Daarom moet dit vir julle baie lekker wees om die mense in die gemeente se geloof sterk te maak.

13. Daarom, wanneer iemand in tale praat, dan moet hy ook bid dat hy sal kan sê wat dit beteken.

14. Want wanneer ek in tale bid, dan bid my hart, maar ek dink nie met my verstand wat ek bid nie.

15. Wat moet ek dan doen? Ek sal bid met my hart, maar ek sal ook bid met my verstand. Ek sal vir die Here sing met my hart, maar ek sal ook met my verstand vir die Here sing.

16. Maar onthou: Wanneer jy met jou hart bid en jy prys die Here, dan is daar miskien iemand wat nie die genadegawe het om tale te verstaan nie. Kan daardie persoon dan saamstem en “amen” sê wanneer jy vir die Here dankie sê? Nee, want hy verstaan nie wat jy sê nie.

17. Jy sê miskien mooi dankie vir die Here, maar dit maak nie die ander persoon se geloof sterk nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 14