Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 4:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Vriende, julle moenie vir almal glo wat sê dat hulle God se Gees in hulle het nie. Julle moet uitvind of hulle regtig God se Gees het, want daar is baie vals profete in die wêreld.

2. Hoe moet julle uitvind of iemand die Gees van God het? As mense sê hulle glo dat Jesus Christus regtig ’n mens geword het, dan het hulle die Gees van God.

3. Maar mense wat sê dat hulle dit nie glo nie, het nie die Gees van God nie. Hulle het die gees van die antichris. Julle het gehoor dat die antichris sal kom. Maar ek sê vir julle, hy is nou al klaar hier in die wêreld.

4. Vriende, julle is kinders van God. Julle het die vals profete oorwin, want God is by julle en Hy is sterker as die Satan wat by die mense van die wêreld is.

5. Die vals profete is mense van die wêreld. Daarom praat hulle soos die mense van die wêreld, en die mense van die wêreld doen wat die vals profete sê.

6. Maar ons is kinders van God. Almal wat vir God ken, doen wat ons sê. Almal wat nie kinders van God is nie, doen nie wat ons sê nie. Daarom weet ons wie het ’n gees wat lieg en wie het God se Gees, die Gees van die waarheid.

7. Vriende, ons moet lief wees vir mekaar, want liefde kom van God. Almal wat lief is vir ander mense, is kinders van God en hulle ken vir God.

8. Mense wat nie lief is vir ander mense nie, ken nie vir God nie, want God is liefde.

9. God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Niemand anders is soos sy Seun nie. Sy Seun het gekom om vir ons ware lewe te gee.

10. Ware liefde is nie dat óns lief was vir God nie, maar dat Gód lief was vir ons en dat Hy sy Seun gestuur het. Sy Seun het gesterf, Hy was die offer wat ons sonde weggeneem het en wat ons met God versoen het.

11. Vriende, God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is, daarom moet ons ook lief wees vir mekaar.

12. Niemand het vir God gesien nie, nooit. As ons lief is vir mekaar, dan bly God by ons en dan is ons harte vol van sy liefde.

13. Ons weet dat ons by God bly en dat Hy by ons bly, want Hy het sy Gees vir ons gegee.

14. Ons het gesien en nou vertel ons dat die Vader sy Seun gestuur het sodat die Seun die Redder van die wêreld kon word.

15. As mense sê hulle glo dat Jesus die Seun van God is, dan is God by hulle en hulle is by God.

16. Ons het gesien en geglo dat God lief is vir ons. God is liefde, en almal wat vashou aan sy liefde, bly by Hom en Hy bly by hulle.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 4