Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 3:17-24 Bybel vir Almal (ABA)

17. Mense wat baie goed het, sien miskien dat ’n ander gelowige iets nodig het, maar hulle is nie jammer vir hom nie en hulle wil hom nie help nie. Daardie mense wys dat hulle nie lief is vir God nie.

18. Vriende, ons moet lief wees vir die ander gelowiges, maar ons moet dit nie net sê nie. Ons moet dinge dóén wat wys dat ons lief is vir hulle omdat ons weet wat die waarheid is.

19-20. As ons daardie dinge doen, dan sal ons weet dat God sy waarheid vir ons gegee het. As ons skuldig voel en dink God moet ons straf, dan moet ons nie bang wees vir God se oordeel nie. Want ons weet dat God belangriker is as die dinge wat ons in ons harte voel. En God weet alles.

21. Vriende, ons voel nie skuldig nie en ons is nie bang vir God se straf nie, daarom is ons ook nie bang om vir Hom iets te vra nie.

22. En God gee vir ons wat ons vra, want ons doen die dinge wat Hy sê ons moet doen, dinge waarvan Hy hou.

23. God wil hê dat ons in sy Seun Jesus Christus moet glo en dat ons lief moet wees vir mekaar. Jesus het gesê ons moet dit doen.

24. As ons doen wat God sê, dan bly ons by Hom en Hy bly by ons. En ons weet dat Hy by ons bly, want Hy het vir ons die Heilige Gees gegee.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 3