hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 2 Bybel vir Almal (ABA)

1. Liewe vriende, ek skryf hierdie dinge vir julle omdat ek wil hê julle moenie sonde doen nie. Maar as ons sonde doen, dan kan ons seker wees dat ons Iemand by die Vader het wat vir Hom vra om ons te vergewe. Dit is Jesus Christus, Hy wat nie sonde gedoen het nie.

2. Jesus het gesterf, Hy was die offer. God het Hom gebruik om ons sonde te versoen. Maar nie net óns sonde nie, Hy het ook die sonde van al die mense in die wêreld versoen.

Julle moet doen wat God wil hê

3. As ons doen wat God se wette vir ons sê, dan weet ons dat ons Hom ken.

4. As mense sê hulle ken God, maar hulle doen nie wat Hy sê hulle moet doen nie, dan lieg hulle en hulle aanvaar nie die waarheid nie.

5. Maar as mense doen wat God vir hulle sê, dan kan ’n mens sien dat hulle regtig baie lief is vir God. As ons só lewe, dan weet ons dat ons by God is.

6. As mense sê hulle is by God, dan moet hulle lewe soos Jesus gelewe het.

7. Liewe vriende, ek gee nie vir julle ’n nuwe wet nie. Dit is ’n ou wet wat julle van die begin af het, ’n wet wat ons by Jesus gehoor het.

8. Maar ’n mens kan ook sê dit is ’n nuwe wet wat ek vir julle gee, want wat Jesus gedoen het en wat julle doen, maak die wet nuut en waar. Die donker gaan verby en die ware lig skyn nou.

9. As mense sê dat hulle in die lig van God lewe, maar hulle haat ander gelowiges, dan lewe daardie mense nog altyd in die donker.

10. As mense lief is vir ander gelowiges, dan bly hulle in die lig. Daar is niks wat hulle verkeerde dinge laat doen nie.

11. As mense ander gelowiges haat, dan lewe hulle in die donker. Hulle is soos mense wat in die donker loop en nie weet waarnatoe hulle gaan nie, want die donker maak hulle blind.

Julle moenie lief wees vir die wêreld nie

12. Vriende, ek skryf hierdie briefvir julle,julle kan seker wees dat Godjulle sondes vergewe het.

13. Julle wat eerste begin hetom te glo,ek skryf hierdie brief vir julle,julle kan seker wees dat julleJesus van die begin af ken.Julle wat later begin hetom te glo,ek skryf hierdie brief vir julle,julle kan seker wees dat julle die duiwel oorwin het.

14. Ja, vriende, ek skryfhierdie brief vir julle,julle kan seker wees dat julledie Vader ken.Julle wat eerste begin hetom te glo,ek skryf hierdie brief vir julle,julle kan seker wees dat julleJesus van die begin af ken.Julle wat later begin hetom te glo,ek skryf hierdie brief vir julle,julle kan seker weesdat julle sterk isen dat julle alles aanvaarwat God sê en dat julledie duiwel oorwin het.

15. Julle moenie lief wees vir hierdie sondige wêreld en vir die dinge van die wêreld nie. As julle lief is vir die wêreld, dan is julle nie lief vir die Vader nie.

16. Die mense van die wêreld doen graag slegte dinge, hulle wil alles hê wat hulle sien, hulle is hoogmoedig oor wat hulle doen. Dit alles kom van die wêreld, dit kom nie van die Vader nie.

17. Die wêreld en die dinge wat die mense van die wêreld graag doen, sal verdwyn, maar almal wat doen wat God wil hê, sal altyd lewe.

Die antichriste

18. Vriende, die einde van die wêreld is naby. Julle het gehoor dat die antichris kom. Daar is nou baie antichriste, en daarom weet ons dat die einde van die wêreld naby is.

19. Die antichriste was eers by ons, maar hulle het nooit saam met ons geglo nie. As hulle saam met ons geglo het, dan sou hulle by ons gebly het. Maar nou is hulle weg en almal kan sien dat hulle nie saam met ons geglo het nie.

20. Maar julle is anders. Jesus, wat self heilig is, het julle met die Heilige Gees gesalf, en julle almal weet genoeg.

21. Ek skryf nie hierdie brief vir julle omdat julle nie die waarheid ken nie. Julle ken die waarheid, en julle weet dat iets wat nou die waarheid is, nie later ’n leuen sal wees nie.

22. Weet julle wie is die mense wat nie die waarheid praat nie? Dit is die mense wat nie wil aanvaar dat Jesus die Christus is nie. Hulle is die antichriste. Hulle aanvaar nie die Vader nie en hulle aanvaar ook nie die Seun nie.

23. Almal wat nie die Seun aanvaar nie, behoort nie aan die Vader nie, maar almal wat in die Seun glo en wat dit sê, behoort aan die Vader.

24. Julle moet die boodskap aanvaar wat julle van die begin af gehoor het. As julle dit aanvaar, dan is julle by die Seun en die Vader.

25. En Jesus het belowe dat Hy ons altyd sal laat lewe.

26. Ek skryf hierdie brief vir julle om julle te waarsku dat daar mense is wat vir julle verkeerd wil leer.

27. Maar julle moet onthou dat Jesus julle met die Heilige Gees gesalf het, en die Heilige Gees bly in julle harte. Daarom is dit nie nodig dat iemand anders vir julle leer nie. Jesus het julle met die Heilige Gees gesalf, en die Heilige Gees leer vir julle alles. Hy praat die waarheid, Hy lieg nie. Hy het vir julle geleer om by Jesus te bly, en dit moet julle doen.

Kinders van God

28. Vriende, julle moet by Jesus bly. Dan, wanneer Jesus weer kom, sal ons nie bang wees nie, ons sal nie wil wegvlug van Hom nie.

29. Julle weet dat Jesus altyd gehoorsaam is aan God. Daarom moet julle ook onthou: Almal wat lewe soos God wil hê, is kinders van God.