hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 1 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus Christus gee ware lewe

1. Ons skryf vir julle oor Jesus Christus. Hy is die Woord wat vir mense ware lewe gee. Toe Hy op die aarde was, het ons gehoor wat Hy sê en ons het Hom self met ons oë gesien. Ja, ons het Hom gesien en ons het met ons hande aan Hom geraak.

2. Jesus Christus wat vir ons ware lewe gee, het ’n mens geword. Ons het Hom gesien en ons vertel vir julle en sê Jesus is self die ewige lewe. Hy was by die Vader, maar Hy het ’n mens geword by ons.

3. Ons het Hom gesien en ons het gehoor wat Hy sê, en ons vertel ook vir julle van Hom sodat julle en ons aan mekaar kan behoort. Dan behoort ons saam aan die Vader en sy Seun, Jesus Christus.

4. Ons skryf al hierdie dinge vir julle en dit maak ons baie bly, ons harte is vol blydskap.

God is lig

5. Ons vertel vir julle wat ons by Jesus gehoor het. Hy het gesê God is lig en daar is niks donker in Hom nie.

6. As ons sê ons behoort aan God, maar ons lewe in die donker, nie in die lig van God nie, dan lieg ons en dan doen ons nie wat God wil hê nie.

7. Maar as ons in die lig lewe, soos God in die lig is, dan behoort ons aan mekaar. Dan reinig die bloed van Jesus, die Seun van God, ons van al ons sonde.

8. As ons sê ons doen nie sonde nie, dan bedrieg ons onsself en dan aanvaar ons nie die waarheid nie.

9. Maar as ons bely dat ons sonde gedoen het, dan kan ons seker wees dat God sal doen wat Hy belowe het en dat Hy regverdig is. Ja, Hy vergewe ons sondes en Hy reinig ons van alles wat ons verkeerd gedoen het.

10. As ons sê ons het nie sonde gedoen nie, dan beteken dit ons sê dat God lieg. Dan aanvaar ons nie wat God vir ons sê nie.