Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 27:7-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie;as jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet.

8. Soos 'n voël wat sy nes net so los,so is 'n man wat sy gesin in die steek laat.

9. Reukolie en wierook is iets om te geniet,maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry.

10. Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaanna jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie:'n buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat ver is.

11. As jy wysheid leer, my seun, sal dit my gelukkig maaken sal ek kan terugantwoord as ek weer skimpe oor jou hoor.

12. 'n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie,onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor.

13. As 'n vreemde vir iemand borg staan,vat sy klere van hom af;hou dit as pand, al staan hy borg vir 'n slegte vrou.

14. As iemand sy buurman vroegdag met 'n geskreeu môre-sê,kan mense dink hy is besig om hom te vervloek.

15. Die gedrup uit 'n dak wat lek op 'n reëndag,so is 'n vrou wat aanhou kyf.

16. Wie haar probeer keer, kan net so wel die wind probeer keerof olie met sy hand probeer vashou.

17. Yster slyp yster,vriende vorm mekaar.

18. Wie sy vyeboom versorg, sal vye hê om te eet;wie omsien na sy werkgewer se belange, sal daarvoor eer ontvang.

19. Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk,so sien jy jouself in wat jy dink.

20. Die doderyk en die onderaardse diepte kry nie genoeg aan dooies nie;'n mens se oë kry nie genoeg van begeer nie.

21. Die waarde van silwer word in 'n smeltkroes getoets,dié van goud in 'n oond,dié van 'n mens aan die lof wat hy ontvang.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 27