Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 26:9-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. 'n Doring in 'n dronk man se hand,so is 'n spreuk in die mond van 'n dwaas.

10. 'n Boogskutter wat nie omgee wie hy raakskiet nie,so is iemand wat 'n dwaas of sommer 'n verbyganger huur.

11. Soos 'n hond wat na sy braaksel toe terugkom,so is 'n dwaas wat dieselfde dwaasheid weer begaan.

12. Jy sien self: vir iemand wat dink hy het die wysheid in pag,is daar minder hoop as vir 'n dwaas.

13. Die luiaard se verskoning is:“Daar is 'n leeu in die pad!Daar is 'n leeu in die straat!”

14. 'n Deur bly op sy skarnier draai;'n luiaard bly omdraai op sy bed.

15. Die luiaard steek sy hand in die skottel,maar hy is te lui om dit terug te bring na sy mond toe.

16. Die luiaard dink hy het meer wysheidas sewe mense wat verstandige antwoorde kan gee.

17. Iemand wat 'n kwaai hond sommer aan die ore pak,so is iemand wat woedend instorm in 'n rusie wat hom nie aangaan nie.

18. Soos 'n mal mens wat dodelike pyle rondskiet,

19. so is iemand wat 'n ander bedrieg en sê: “Ek speel sommer.”

20. Sonder hout bly 'n vuur nie brand nie;sonder 'n kwaadstoker hou 'n rusie nie aan nie.

21. Daar is houtskool nodig vir gloeiende kole, hout vir 'n vuur,en 'n twissiek mens vir rusie stook.

22. 'n Geskinder is soos lekker kos,mense sluk dit so maklik.

23. Soos om 'n potskerf met silwer oor te trek,so is dit om slegte bedoelings agter mooi woorde weg te steek.

24. Iemand kan sy haat verbloem met wat hy sê,maar binne hou hy by sy valsheid.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 26