Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 25:5-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. As jy die goddeloses by die koning wegvat,kan hy regverdig bly regeer.

6. Moet jou nie vernaam aanstel by die koningen op die plek vir hoë mense gaan staan nie.

7. Dit is beter dat hy vir jou sê: “Kom op hiernatoe!”as dat hy jou laat plek maak vir die vername mense.As jy iets gesien het,

8. moenie te haastig teen jou buurman 'n klag indien nie;wat sal jy agterna doen as hy jou belaglik maak?

9. As jy 'n saak teen jou buurman het,moenie sê wat iemand jou vertroulik meegedeel het nie:

10. dit kan by hom uitkom, en hy kan jou tot 'n leuenaar maak,en dan kry jy vir goed 'n slegte naam.

11. Goue appels wat in silwer gemonteer is,so is die regte woord op die regte tyd.

12. 'n Goue ring, goue juwele,so is die wyse vermaning vir wie wil luister.

13. Soos die verkoeling wat in die oestyd deur sneeu gebring word,so is 'n betroubare gesant vir dié wat hom gestuur het;hy gee dié in wie se diens hy staan, nuwe moed.

14. Miswolke en wind, maar geen reën nie,so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie.

15. Met geduld kan iemand in 'n magsposisie tot ander insigte gebring word;met 'n versigtige benadering word weerstand afgebreek.

16. As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het;as jy te veel eet, word jy naar.

17. Wees spaarsaam met jou kuiers by jou buurman;as hy jou te veel sien, hou hy naderhand nie meer van jou nie.

18. 'n Knopkierie, 'n swaard, 'n skerp pyl,so is 'n man wat vals teen sy naaste getuig.

19. 'n Seer tand, 'n voet wat meegee,so is dit om in gevaar staat te maak op 'n onbetroubare mens.

20. Iemand wat jou klere van jou afvat op 'n koue dag,of asyn op bytsoda,so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel.

21. As iemand wat jou haat, honger is, gee hom iets om te eet;as hy dors is, gee hom iets om te drink.

22. Die Here sal jou daarvoor vergoed,en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.

23. Die noordewind bring reën,en agteraf-praat maak mense kwaad.

24. Liewer bo-op 'n dak woonas saam met 'n twisgierige vrou onder een dak.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 25