Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 25:13-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Soos die verkoeling wat in die oestyd deur sneeu gebring word,so is 'n betroubare gesant vir dié wat hom gestuur het;hy gee dié in wie se diens hy staan, nuwe moed.

14. Miswolke en wind, maar geen reën nie,so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie.

15. Met geduld kan iemand in 'n magsposisie tot ander insigte gebring word;met 'n versigtige benadering word weerstand afgebreek.

16. As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het;as jy te veel eet, word jy naar.

17. Wees spaarsaam met jou kuiers by jou buurman;as hy jou te veel sien, hou hy naderhand nie meer van jou nie.

18. 'n Knopkierie, 'n swaard, 'n skerp pyl,so is 'n man wat vals teen sy naaste getuig.

19. 'n Seer tand, 'n voet wat meegee,so is dit om in gevaar staat te maak op 'n onbetroubare mens.

20. Iemand wat jou klere van jou afvat op 'n koue dag,of asyn op bytsoda,so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel.

21. As iemand wat jou haat, honger is, gee hom iets om te eet;as hy dors is, gee hom iets om te drink.

22. Die Here sal jou daarvoor vergoed,en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.

23. Die noordewind bring reën,en agteraf-praat maak mense kwaad.

24. Liewer bo-op 'n dak woonas saam met 'n twisgierige vrou onder een dak.

25. Koue water vir 'n moeë mens se dors,so is 'n goeie berig uit 'n ver land.

26. 'n Fontein, 'n put waarvan die water vuil en stink geword het,so is 'n regverdige wat hom tot 'n val laat bring deur 'n goddelose.

27. Om te veel heuning te eet, is nie goed nie,ook nie om eer te bly soek nie.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 25