Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 21:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here;soos 'n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.

2. In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg,maar die Here toets die gesindheid.

3. Die Here verkies dat 'n mens doen wat regverdig en reg iseerder as dat jy offers bring.

4. Die sonde van goddeloses begin altyd met selfverheffing en eiewaan.

5. Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig,maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek.

6. Skatte wat met bedrog versamel is,verdwyn in die wind en bring die dood.

7. Die geweld van goddelose mense vernietig hulleself,want hulle weier om reg te doen.

8. 'n Slegte mens loop krom paaie;'n eerbare mens tree eerlik op.

9. Liewer bo-op 'n dak woonas saam met 'n twisgierige vrou onder een dak.

10. 'n Slegte mens smag na meer kwaad;hy het nie medelye met sy naaste nie.

11. As jy 'n ligsinnige mens laat boet vir sy dade,leer onervare mense wysheid daaruit;as jy iemand onderrig wat wysheid het,leer hy self daaruit.

12. Die regverdige God sien wat in die goddelose se huis aangaanen Hy bring die goddelose tot 'n val.

13. As jy jou ore sluit vir die hulpgeroep van 'n arm mens,sal jý ook nie antwoord kry as jý roep nie.

14. 'n Geskenk in die stilte paai 'n man wat kwaad is;as dit versigtig aangebied word, laat dit heftige woede bedaar.

15. As daar reg geskied, is mense wat reg doen, bly,en staan dié wat onreg doen, verskrik.

16. As iemand ophou om verstandig te lewe,beland hy tussen die dooies.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 21