Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 12:5-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Dan sal die leiers van Juda vir hulleself sê: “Die krag van die inwoners van Jerusalem lê in hulle God, die Here die Almagtige.”

6. Daardie dag maak Ek die leiers van Juda soos 'n bak vuur onder die hout, soos 'n vlam onder die afgesnyde koringare. Hulle sal al die volke rondom verteer, na alle kante toe. Maar Jerusalem sal nog staan waar hy was.

7. Die Here sal die woonplekke van Juda eerste red, sodat die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem nie méér eer ontvang as Juda nie.

8. Daardie dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Selfs die swakste van hulle sal daardie dag soos Dawid word, en die koningshuis van Dawid sal soos 'n hemelwese word, soos die engel van die Here wat voor hulle uit gaan.

9. Daardie dag begin Ek al die nasies uitroei wat vir Jerusalem kom aanval.

10. Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek 'n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos 'n mens treur oor 'n enigste kind, hulle sal oor hom huil soos 'n mens oor 'n oudste seun huil.

11. Daardie dag sal daar in Jerusalem meer getreur word as wat daar oor Hadad-Rimmon getreur is in die Megiddovlakte.

12. Die land sal treur, die mans in elke familie afsonderlik, en hulle vrouens afsonderlik: die familie van Dawid en hulle vrouens, die familie van Natan en hulle vrouens,

13. die familie van Levi en hulle vrouens, die familie van Simi en hulle vrouens,

14. en al die ander families, die mans afsonderlik en hulle vrouens afsonderlik.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 12