Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 11:2-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Huil, sipres, want 'n seder het geval, die grootste bome is verwoes! Huil, groot bome in Basan, want die ondeurdringbare bos het geval!

3. Luister hoe huil die herders omdat hulle beste weiveld verwoes is! Luister hoe brul die leeus omdat die pragtige bos langs die Jordaan verwoes is!

4. So het die Here my God gesê: Gaan wees 'n herder vir die slagskape.

5. Hulle eienaars self slag hulle sonder skuldgevoel, of verkoop hulle en sê: “Prys die Here, ek word ryk!” Ook die skape se herders gee vir hulle niks om nie.

6. Ek gee ook nie meer om vir die inwoners van die land nie, sê die Here, Ek gee hulle oor in mekaar se mag en in die mag van hulle koning. Die land sal uitmekaar geslaan word, maar Ek sal niemand red nie.

7. Ek het toe 'n herder geword in diens van dié wat met die slagskape handel dryf. Ek het twee kieries gevat, die een Vriendelikheid genoem en die ander Vereniging, en ek het vir die skape 'n herder geword.

8. Binne een maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar ek het ongeduldig geraak met die skape, en hulle het ook vir my moeg geraak.

9. Ek het gesê: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat wil doodgaan, doodgaan. Laat dié wat wil wegraak, wegraak. En laat dié wat oorbly, mekaar opvreet.”

10. Ek het my kierie Vriendelikheid gevat en dit stukkend geslaan om so die ooreenkoms wat ek met al die volke gehad het, te verbreek.

11. Die ooreenkoms het dieselfde dag opgehou om te bestaan en die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het geweet dat die Here dit so beveel het.

12. Ek het vir hulle gesê: “As julle wil, gee my my loon; as julle nie wil nie, laat staan dit.” Hulle het toe my loon afgeweeg, dertig stukke silwer.

13. Die Here het vir my gesê: Gooi dit vir die pottebakker!En dit was nogal die kosbare loon wat hulle gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig stukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 11