Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 10:5-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Soos sterk vegsmanne sal die mense van Juda die vyand soos modder in die strate vertrap. Hulle sal veg, want die Here is by hulle; hulle sal die perderuiters op die vlug jaag.

6. Ek sal Juda sterk maak, Ek sal Josef red. Ek laat hulle terugkom, want Ek is jammer vir hulle. Dit sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie. Ek is die Here hulle God en Ek het hulle gebede verhoor.

7. Die mense van Efraim sal soos sterk vegsmanne wees, hulle sal vrolik wees asof hulle wyn gedrink het. Hulle kinders sal dit sien en bly wees, hulle sal juig oor My, die Here.

8. Ek sal vir hulle fluit en hulle bymekaarmaak. Ja, Ek gaan hulle red, en hulle sal net so baie wees as tevore.

9. Al verstrooi Ek hulle weer onder die volke, sal hulle My daar in die ver plekke onthou, en hulle en hulle kinders sal bly lewe en terugkom.

10. Ek sal hulle laat terugkom uit Egipte, Ek sal hulle uit Assirië uit bymekaarmaak en hulle na Gilead en die Libanon toe bring, en dié sal nie genoeg plek vir hulle hê nie.

11. Die volk sal deur die gevaarlike see trek, die golwe in die see sal oorwin word en al die Nyldieptes sal opdroog. Die hoogmoed van Assirië sal tot 'n val kom, die heerskappy van Egipte sal die wyk moet neem.

12. Ek, die Here, sal by my volk wees en hulle sterk maak. Hulle sal in my Naam voortgaan. Die Here het dit gesê.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 10