Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 10:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Vra vir die Here reën in die tyd wanneer die laat reëns moet kom. Hy maak die reënwolke en laat die stortreëns val, Hy gee vir die mense die groen plante in die veld.

2. Wat die afgodsbeelde sê, is bedrog; wat die waarsêers sien, is leuens; die drome wat hulle vertel, het nie plaasgevind nie; hulle probeer troos met wat nie bestaan nie. Daarom moes die volk weg, moes hulle in ellende beland soos skape wat nie 'n wagter het nie.

3. Maar nou het my toorn ontvlam teen die herders, Ek gaan rekenskap eis van die voorbokke, sê die Here.Ja, die Here die Almagtige het Hom die lot van sy kudde Juda aangetrek, Hy gaan hulle sy trotse oorlogsperd maak.

4. Uit Juda sal die hoekklip kom, uit hom sal die tentpen, uit hom die pyl en boog vir die oorlog kom, en uit hom sal elke onderdrukker padgee.

5. Soos sterk vegsmanne sal die mense van Juda die vyand soos modder in die strate vertrap. Hulle sal veg, want die Here is by hulle; hulle sal die perderuiters op die vlug jaag.

6. Ek sal Juda sterk maak, Ek sal Josef red. Ek laat hulle terugkom, want Ek is jammer vir hulle. Dit sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie. Ek is die Here hulle God en Ek het hulle gebede verhoor.

7. Die mense van Efraim sal soos sterk vegsmanne wees, hulle sal vrolik wees asof hulle wyn gedrink het. Hulle kinders sal dit sien en bly wees, hulle sal juig oor My, die Here.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 10