Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:37-47 Afrikaans 1983 (AFR83)

37. Die manne van die hinderlae het toe gou in Gibea versprei en die stad oorweldig en die inwoners om die lewe gebring.

38. Daar was 'n afspraak tussen die Israeliete en hulle hinderlaag om 'n groot rookwolk in die stad op te stuur.

39. Toe die Israeliete omdraai om te veg, het die Benjaminiete begin om hulle dood te maak. Sowat dertig man is om die lewe gebring, en die Benjaminiete het gedink: ja-nee, hulle is weer deur ons in die geveg verslaan soos die vorige keer.

40. Toe die rookwolk uit die stad begin opstyg, het die Benjaminiete omgedraai, maar die stad het klaar in vlamme gestaan.

41. Toe die Israeliete omgedraai het om te veg, het die Benjaminiete baie bang geword, want hulle het besef dat 'n groot ramp hulle getref het.

42. Hulle het met die woestynpad voor die Israeliete weggevlug, maar hulle kon die geveg nie vryspring nie, want dié wat die stad in puin gelê het, het hulle verslaan.

43. Die Benjaminiete is omsingel en sonder genade agtervolg. Hulle is regoor Gibea, aan die oostekant, platgeloop.

44. Van Benjamin het daar in die geveg agtien duisend man geval, almal dapper soldate.

45. Die ander het weggekom na die woestyn toe, na die Rimmonrots toe. Op die grootpaaie het die Israeliete nog vyf duisend man doodgemaak. Hulle het die Benjaminiete nog agtervolg tot by Gidom en twee duisend man om die lewe gebring.

46. Uit Benjamin het dié dag vyf en twintig duisend man geval, manne wat kon veg, almal dapper soldate.

47. Ses honderd man het tot by die Rimmonrots gevlug. Hulle het vier maande lank daar gebly.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20