Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:22-23-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

22-23. Nadat die Israeliete tot die aand toe in die teenwoordigheid van die Here gekla het, het hulle vir Hom gevra: “Moet ons weer teen ons broers die Benjaminiete gaan oorlog maak?”Die Here het geantwoord: “Trek teen hulle op!”Toe het die Israeliete moed geskep en weer hulle manne ontplooi om te veg waar hulle dit die vorige dag gedoen het.

24. Die tweede dag het die Israeliete weer die Benjaminiete aangeval,

25. maar hulle het weer uit Gibea uit gestorm en agtien duisend man van Israel om die lewe gebring, almal goeie soldate.

26. Al die Israeliete en die hele leër is toe na Bet-El toe en daar het hulle in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en huil, en daardie dag het hulle tot die aand toe niks geëet nie. Hulle het brandoffers en maaltydoffers aan die Here geoffer.

27. Hulle het die Here geraadpleeg; die verbondsark van die Here was destyds by hulle.

28. Pinehas, seun van Eleasar seun van Aäron, wat destyds as priester gedien het voor die Here, het gevra: “Moet ons weer gaan oorlog maak teen ons broers die Benjaminiete of moet ons ophou?”Toe antwoord die Here: “Trek op! Môre gee Ek hulle in julle mag.”

29. Van die Israeliete het toe rondom Gibea in hinderlae gaan lê.

30. Op die derde dag het die ander Israeliete teen Benjamin opgeruk en die manskappe regoor Gibea ontplooi soos die vorige kere.

31. Die Benjaminiete het die soldate tegemoet gestorm, maar die Benjaminiete is van hulle stad af weggelok. Soos die vorige kere het hulle die Israeliete verslaan en begin doodmaak op die grootpaaie na Bet-El en Gibea toe. Hulle het sowat dertig Israeliete om die lewe gebring.

32. Die Benjaminiete het gedink: soos voorheen is hulle weer deur ons verslaan. Maar die Israeliete het afgespreek: “Ons sal vlug en hulle uit die stad uit na die grootpaaie toe lok.

33. Wanneer die grootste deel van Israel uit sy plek padgee en by Baäl-Tamar ontplooi, moet die Israeliete wat in die hinderlae lê, uit hulle plekke wes van Gibea opspring.”

34. Tien duisend dapper soldate uit die leër van die Israeliete het tot regoor Gibea gegaan, en daar is roekeloos geveg. Die Benjaminiete het nog nie besef dat 'n ramp op hulle afkom nie.

35. Maar die Here het hulle verslaan vir die Israeliete, en die Israeliete het op dié dag vyf en twintig duisend een honderd man van Benjamin, almal dapper soldate, om die lewe gebring.

36. Toe het die Benjaminiete besef dat hulle verslaan is en dat die Israeliete net vir hulle teruggeval het omdat die Israeliete staatgemaak het op die hinderlae wat hulle teen Gibea opgestel het.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20