Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:15-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Die Benjaminiete wat uit die stede gekom het, is daardie dag getel, en daar was ses en twintig duisend man wat kon veg, en dit behalwe dié van Gibea. Hulle is ook getel, sewe honderd knap soldate.

16. In daardie hele leër was daar sewe honderd knap soldate, almal links. Hulle kon keer op keer 'n haar raakgooi met 'n klip uit 'n slingervel.

17. Die Israeliete is ook getel, en sonder Benjamin was daar vier honderd duisend man wat kon veg, elkeen reg vir die oorlog.

18. Hulle het na Bet-El toe gegaan en God daar geraadpleeg. Die Israeliete het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek om teen Benjamin te gaan veg?”Die Here het geantwoord: “Juda moet eerste gaan.”

19. Die volgende môre het al die Israeliete klaargemaak en regoor Gibea kamp opgeslaan.

20. Die Israeliete het hulle manne teenoor Gibea ontplooi om teen die Benjaminiete te veg,

21. maar die Benjaminiete het uit Gibea gestorm en op daardie dag twee en twintig duisend Israeliete om die lewe gebring.

22-23. Nadat die Israeliete tot die aand toe in die teenwoordigheid van die Here gekla het, het hulle vir Hom gevra: “Moet ons weer teen ons broers die Benjaminiete gaan oorlog maak?”Die Here het geantwoord: “Trek teen hulle op!”Toe het die Israeliete moed geskep en weer hulle manne ontplooi om te veg waar hulle dit die vorige dag gedoen het.

24. Die tweede dag het die Israeliete weer die Benjaminiete aangeval,

25. maar hulle het weer uit Gibea uit gestorm en agtien duisend man van Israel om die lewe gebring, almal goeie soldate.

26. Al die Israeliete en die hele leër is toe na Bet-El toe en daar het hulle in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en huil, en daardie dag het hulle tot die aand toe niks geëet nie. Hulle het brandoffers en maaltydoffers aan die Here geoffer.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20