Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:6-18-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Adoni-Besek het gevlug, maar Juda het hom agternagesit en hom gevang. Hulle het sy duime en groottone afgesny.

7. Toe sê Adoni-Besek: “God het my nou die straf gegee wat ek verdien, want ek het sewentig konings se duime en groottone laat afsny, en hulle moes kos soek onder my tafel.” Juda het vir Adoni-Besek na Jerusalem toe gevat, en hy is daar dood.

8. Juda het teen Jerusalem geveg en dit ingeneem. Hulle het sy inwoners doodgemaak en die stad aan die brand gesteek.

9. Daarna het Juda gaan veg teen die Kanaäniete wat gewoon het op die Bergland, in die Suidland en in die Laeveld.

10. Toe het Juda teen die Kanaäniete van Hebron gaan veg en vir Sesai, Agiman en Talmai verslaan. Hebron was vroeër bekend as Kirjat-Arba.

11. Van hier af het Juda teen die mense van Debir gaan veg. Debir was vroeër bekend as Kirjat-Sefer.

12. By daardie geleentheid het Kaleb beloof: “Ek sal my dogter Aksa as vrou gee aan die man wat vir Kirjat-Sefer aanval en inneem.”

13. Otniël seun van Kenas, 'n jonger broer van Kaleb, het dit ingeneem, en Kaleb het sy dogter Aksa vir hom as vrou gegee.

14. Toe sy by hom kom, het hy haar aangepor om vir haar pa landbougrond te vra. Sy het van haar donkie afgeklim en Kaleb het vir haar gevra: “Wat wil jy vir my vra?”

15. Toe sê sy vir hom: “Gee my 'n stuk vrugbare grond. U het my die droë Suidland gegee. Gee my nou ook standhoudende water.”Kaleb het toe vir haar fonteine in die hooggeleë deel en fonteine in die laaggeleë deel gegee.

16. Die Keniete, afstammelinge van Moses se skoonpa, het saam met Juda uit die Palmstad getrek na die Judawoestyn toe. Dit was geleë in die Suidland by Arad. Hulle het by die volk daar gaan woon.

17. Juda het met sy broer Simeon saamgespan en die Kanaäniete verslaan wat in Sefat woon. Hulle het die stad in puin gelê en dit Gorma genoem.

18-19. Die Here was by Juda, en hulle het die Bergland in besit geneem. Maar Juda kon nie die inwoners van die Vlakte verslaan en hulle stede verower nie, want hulle het ysterstrydwaens gehad. Hulle stede was Gasa, Askelon en Ekron, elkeen met sy grondgebied.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1