Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:2-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Die Here het geantwoord: “Juda moet gaan. Ek gee die land oor in sy mag.”

3. Toe sê Juda vir sy broer Simeon: “Kom saam met my na die gebied toe wat aan my toegesê is, dan veg ons saam teen die Kanaäniete. Ek sal dan weer saam met jou gaan na jou gebied toe.”Simeon is toe saam met hom.

4. Juda het toe gaan veg, en die Here het die Kanaäniete en die Feresiete in Juda se mag oorgegee en hy het in Besek tien duisend man verslaan.

5. Daar het hy op Adoni-Besek afgekom en teen hom geveg en die Kanaäniete en die Feresiete verslaan.

6. Adoni-Besek het gevlug, maar Juda het hom agternagesit en hom gevang. Hulle het sy duime en groottone afgesny.

7. Toe sê Adoni-Besek: “God het my nou die straf gegee wat ek verdien, want ek het sewentig konings se duime en groottone laat afsny, en hulle moes kos soek onder my tafel.” Juda het vir Adoni-Besek na Jerusalem toe gevat, en hy is daar dood.

8. Juda het teen Jerusalem geveg en dit ingeneem. Hulle het sy inwoners doodgemaak en die stad aan die brand gesteek.

9. Daarna het Juda gaan veg teen die Kanaäniete wat gewoon het op die Bergland, in die Suidland en in die Laeveld.

10. Toe het Juda teen die Kanaäniete van Hebron gaan veg en vir Sesai, Agiman en Talmai verslaan. Hebron was vroeër bekend as Kirjat-Arba.

11. Van hier af het Juda teen die mense van Debir gaan veg. Debir was vroeër bekend as Kirjat-Sefer.

12. By daardie geleentheid het Kaleb beloof: “Ek sal my dogter Aksa as vrou gee aan die man wat vir Kirjat-Sefer aanval en inneem.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 1