Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 4:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Verder het ek ook nog al die verdrukking in hierdie wêreld gesien.Die verdruktes kla, maar niemand help hulle nie;daar is niemand wat help teen die geweld van die verdrukkers nie.

2. Toe het ek gedink dié wat klaar dood is, is gelukkiger as dié wat nog lewe,

3. maar die gelukkigste van almal is dié wat nog glad nie gebore is en nog nie al die onreg gesien het wat op hierdie wêreld gedoen word nie.

4. Ek het gesien dat al die moeite wat mens doen vir sukses uit onderlinge afguns kom.Ook hier kom dit dus tot niks.Dit is 'n gejaag na wind.

5. Die dwaas vou sy hande en bewerk so sy eie ondergang.

6. Hy vind een hand vol rus beter as 'n dubbele hand vol werk.Ook dit is 'n gejaag na wind.

7. Ek het in hierdie wêreld nog meer gesien wat tot niks kom nie:

8. daar was 'n man wat alleen was, sonder seun of broer. Tog was daar nie 'n einde aan al sy inspanning nie en was hy steeds op soek na meer rykdom. Hy moes later sê: “Vir wie sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?”Ook hier kom dit tot niks.Dit bly 'n harde saak.

9. Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.

10. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.

11. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word?

Lees volledige hoofstuk Prediker 4