Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 9:6-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Maar daar was persone wat die paasfees nie op daardie dag kon vier nie omdat hulle aan 'n lyk geraak het en dus onrein was. Hierdie manne het dieselfde dag nog na Moses en Aäron toe gekom en vir hulle gesê:

7. “Ons is onrein, want ons het aan 'n lyk geraak, maar waarom word ons daarvan weerhou om op die bestemde tyd saam met die ander Israeliete 'n offergawe aan die Here te bring?”

8. Moses het toe vir hulle gesê: “Wag tot ek verneem het wat die Here oor julle beveel.”

9. Die Here het toe vir Moses gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle:

10. As een van julle of julle nakomelinge deur 'n lyk onrein is, of op 'n ver reis is, mag hy nogtans die paasfees vir die Here vier.

11. Maar dan moet hulle dit in die tweede maand, op die veertiende van die maand, teen sonsondergang vier. Hulle moet die paaslam eet saam met die ongesuurde brood en bitter kruie.

12. Hulle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie en hulle mag ook geen been van die lam breek nie. Hulle moet die paasfees stiptelik volgens al sy voorskrifte vier.

13. Maar as 'n persoon rein is en nie op reis is nie en nogtans in gebreke bly om die paasfees op die gewone tyd te vier, moet hy van sy volksgenote afgesny word omdat hy nagelaat het om 'n offergawe op die bestemde tyd aan die Here te bring. Dié man moet die gevolge van sy sonde dra.

14. “As 'n vreemdeling wat by julle woon, die paasfees vir die Here wil vier, moet hy dit volgens die bestaande voorskrifte en bepalings doen. Een en dieselfde voorskrif geld vir julle almal: vir die vreemdeling en vir die landsburger.”

15. Die dag toe die tabernakel, die tent met die getuienis, opgerig is, het 'n wolk dit oordek. In die aand het die wolk oor die tabernakel soos vuur geword en dit het so gebly tot die môre toe.

16. So was dit deurentyd. Die wolk het die tabernakel oordek en snags was dit soos vuur.

17. Elke keer nadat die wolk van die tent af opgetrek het, het die Israeliete weggetrek, en op die plek waar die wolk afkom, daar het die Israeliete kamp opgeslaan.

18. Op bevel van die Here het die Israeliete weggetrek, en op sy bevel het hulle kamp opgeslaan; gedurende die hele tyd dat die wolk op die tabernakel gerus het, het hulle in die kamp gebly.

Lees volledige hoofstuk Numeri 9