Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 4:28-49 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. Dit is dan die ampspligte van die Gersongroep in verband met die tent van ontmoeting. Hulle werk staan onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.”

29. “Jy moet ook die afstammelinge van Merari tel. Doen dit volgens afstamming en familie.

30. Jy moet almal tussen dertig en vyftig jaar tel wat vir diens geskik is en wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig.

31. Hulle diens in verband met die tent van ontmoeting sal wees om die volgende te dra: die rame, dwarslatte, style en voetstukke van die tabernakel;

32. ook die style rondom die voorhof met hulle voetstukke, penne en toue, al die gereedskap en toebehore. Julle moet 'n lys name opstel van persone wat vir die dra van bepaalde voorwerpe verantwoordelik is.

33. Dit is al die verpligtinge van die Merarigroep in verband met die tent van ontmoeting. Dit moet verrig word onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.”

34-45. Moses, Aäron en die volksleiers het die drie Levitiese families Kehat, Gerson en Merari getel. Hulle het dit gedoen volgens afstamming en familie soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het al die manlike persone van tussen dertig en vyftig jaar opgeskryf, almal wat geskik was vir diens en wat die werk in die tent van ontmoeting kon verrig. Die getalle was soos volg: Kehat twee duisend sewe honderd en vyftig, Gerson twee duisend ses honderd en dertig, Merari drie duisend twee honderd.

46-48. Die groottotaal Leviete van tussen dertig en vyftig jaar, almal wat geskik was om te dien in die tent van ontmoeting en om die drawerk te doen, was ag duisend vyf honderd en tagtig. Moses, Aäron en die leiers van Israel het hulle volgens afkoms en familie getel.

49. Op die bevel wat die Here deur Moses gegee het, is hulle getel en is aan elkeen sy besondere taak en verantwoordelikheid toegewys. Hulle is getel soos die Here vir Moses beveel het.

Lees volledige hoofstuk Numeri 4