Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 21:22-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. “Laat ons toe om deur u land te trek. Ons sal nie afdraai na die lande of die wingerde toe nie, en ons sal ook nie water uit die putte drink nie. Ons sal net met die Koningspad langs trek totdat ons deur u gebied is.”

23. Sihon wou Israel egter nie toelaat om deur sy gebied te trek nie. Hy het al sy manskappe opgeroep en Israel in die woestyn tegemoet getrek. Toe Sihon by Jahas kom, het hy Israel aangeval.

24. Israel het hom egter verslaan en sy land beset van die Arnon af tot by die Jabbok, tot by die Ammoniete, wie se grens goed versterk was.

25. Die Israeliete het al die stede van die Amoriete verower en daarin gaan woon, ook in Gesbon en al sy buitedorpe.

26. Gesbon was die stad van koning Sihon van die Amoriete. Sihon het teen 'n vorige koning van Moab oorlog gemaak en sy hele gebied tot aan die Arnon van hom afgevat.

27. Daarom sê die digters:“Kom na Gesbon toe, bou dit weer op,herstel die stad van Sihon.

28. Daar het 'n vuur uit Gesbon uit gegaan,'n vlam uit die stad van Sihon,en dit het Ar-Moab verteerwat die Arnonhoogtes beheer.

29. Dis klaar met jou, Moab,jy gaan tot niet, volk van Kemos!Hy moes sy seuns as vlugtelinge prysgee,sy dogters as gevangenes aan koning Sihon van die Amoriete!

30. Maar nou het ons op hulle losgetrek:Gesbon se gebied is verwoes tot by Dibon,ons het hulle uitgeroei tot by Nofag,tot by Medeba.”

31. So het Israel dan in die land van die Amoriete gaan woon.

32. Moses het manne gestuur om Jaser te gaan verken. Hulle het Jaser en sy buitedorpe ingeneem en die Amoritiese inwoners verdryf.

33. Hulle het toe weggedraai en in die rigting van Basan getrek. Koning Og van Basan het hulle tegemoet getrek met sy hele leërmag en hulle by Edreï aangeval.

34. Die Here het vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie. Ek gee hom met sy hele leër en sy land in jou mag oor. Doen met hom soos jy gedoen het met koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het.”

35. Die Israeliete het vir Og saam met sy seuns en sy hele leër verslaan. Nie een van sy mense het oorgebly nie. Die Israeliete het ook sy land in besit geneem.

Lees volledige hoofstuk Numeri 21