Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 21:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe die Kanaänitiese koning Arad wat in die Suidland woon, verneem dat Israel in die rigting van Atarim optrek, het hy teen hulle gaan veg en 'n aantal van hulle gevange geneem.

2. Israel het 'n gelofte aan die Here gedoen: “As U hierdie volk en hulle stede in ons mag gee, sal ons hulle stede as banoffers aan U offer.”

3. Die Here het die gebed verhoor en die Kanaäniete in Israel se mag oorgegee. Hulle het toe die Kanaäniete verslaan en hulle stede heeltemal verwoes. Daarom word die plek Gorma genoem.

4. Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword

5. en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”

6. Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf.

7. Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”Moses het toe vir die volk gebid,

8. en die Here het vir Moses gesê: “Maak 'n beeld van 'n giftige slang en sit dit op 'n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”

9. Moses het toe 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit. As iemand wat deur 'n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.

10. Die Israeliete het weggetrek en by Obot kamp opgeslaan.

11. Daarvandaan het hulle versit en kamp opgeslaan by Ije-Abarim in die woestyn regoor Moab, aan die oostekant.

12. Hulle het daarvandaan weggetrek en kamp opgeslaan in die Seredvallei.

13. Daarvandaan het hulle weer versit en kamp opgeslaan langs die Arnonrivier wat uit die gebied van die Amoriete deur die woestyn loop. Die Arnon is die grens tussen Moab en die Amoriete.

14. Daarom lees ons in die Boek van die Oorloë van die Here:“By Waheb in Sufa en by die spruite, by die Arnon,

Lees volledige hoofstuk Numeri 21