Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 19:3-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Gee haar vir die priester Eleasar, en hy moet haar buitekant die kamp laat uitbring en voor hom laat slag.

4. Hy moet dan van die koei se bloed op sy vinger neem en dit sewe keer in die rigting van die ingang van die tent van ontmoeting sprinkel.

5. Die koei moet dan in Eleasar se teenwoordigheid verbrand word. Hulle moet haar vel, vleis en bloed saam met haar pensmis verbrand.

6. Die priester moet sederhout, hisop en bloedrooi wolstof op die koei gooi wat verbrand word.

7. Dan moet hy sy klere was en hom bad. Daarna mag hy in die kamp kom, maar hy sal die res van die dag onrein wees.

8. Die persoon wat die koei verbrand, moet self ook sy klere was en hom bad, en hy sal ook die res van die dag onrein wees.

9. 'n Rein persoon moet die as van die koei bymekaarmaak en dit buitekant die kamp op 'n rein plek bêre. Die as is tot beskikking van die gemeente van Israel om in reinigingswater te gebruik. Die koei is 'n sondeoffer.

10. Die man wat die koei se as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was en hy sal die res van die dag onrein wees.“Dit is 'n vaste instelling vir die Israeliete en vir die vreemdelinge wat by hulle woon.

11. “Iemand wat aan die lyk van 'n mens raak, sal sewe dae lank onrein wees.

12. Hy moet hom op die derde en die sewende dag met die reinigingswater reinig, dan sal hy rein wees. As hy hom nie op die derde en die sewende dag reinig nie, bly hy onrein.

13. Elkeen wat aan die lyk van 'n mens raak en homself nie reinig nie, verontreinig die tabernakel van die Here. So 'n persoon moet van Israel afgesny word. Omdat die reinigingswater nie op hom gesprinkel is nie, is hy onrein, en bly sy onreinheid op hom.

14. “Wanneer iemand in 'n tent sterf, is dít die voorskrif: Elkeen wat in die tent kom, en alles wat daarin is, sal sewe dae lank onrein wees.

15. Ook elke gebruiksvoorwerp wat nie met 'n deksel toegemaak is nie, sal onrein wees.

16. Enigiemand wat in die veld aan 'n persoon raak wat doodgemaak is, of aan iemand wat gewoon gesterf het, of aan 'n mensbeen of aan 'n graf, sal sewe dae lank onrein wees.

17. “Wanneer 'n persoon op hierdie manier onrein geword het, moet iemand van die as vat van die sondeoffer wat verbrand is, dit in 'n pot sit en vars water daaroor gooi.

Lees volledige hoofstuk Numeri 19